Die boswêreld het ‘n paar goed wat die boere se humeure goed laat opvlam: rooijakkalse, wilddiewe en bosluise. Vir eersgenoemde is daar min raad want alles wat al probeer is het tot dusvêr net die rooijakkalse meer professioneel gemaak en vir wilddiewe is daar ook nie veel raad nie. Ongelukkig vir die bosluise het die boere hulle sonder enige moeite al amper gewen net omdat Moeder Natuur ‘n bondgenoot beskikbaar gestel het: renostervoëltjies. Hierdie klein wonderwerkies het al menige wild en beesboer se aanslag teen die bosluise ondersteun en in so ‘n mate dat sommige boere amper nooit hulle diere hoef te behandel teen bosluise nie.
Die rooibekrenostervoëls fokus hoofsaaklik op die larwes van die verpestelike bosluise en vreet soveel as 40,000 per dag. Hulle sal ook volwasse bosluise vreet maar hulle eintlike waarde lê in die vermoë om die larwes uit te wis lank voordat hulle die volwasse stadium bereik. Daarteenoor is die uiters skaars geelbekrenostervoëls meer ingestel om volwasse bosluise te vreet as wat hulle rooibekneefs is. Ongelukkig kom die geelbekrenostervoëls selde buite die Nasionale Krugerwildtuin voor maar die rooibekkies is baie algemeen in die Limpopo provinsie, Mpumalanga, Noordwes, KwaZulu-Natal, sommige dele van die Oos-Kaap, die noorde van Gauteng, sekere dele van die suidwes Vrystaat en self shier en daar in die Noord-Kaap. Hulle getalle en verspreiding is waarskynlik aan die toeneem as gevolg van gunstiger toestande en minder giftige dipstowwe.
Een van die sleutelkwessies vir die veilige voortbestaan en toename in renostervoëls is die dipstowwe wat op diere teen bosluise en ander ektoparasiete gebruik word. Moderne peritroiëde en amidiene se giftigheid vir die voëls is weglaatbaar terwyl die ouer organofosfate meestal dodelik is. Die inspuitbare en opgietmiddel makrosikliese laktone het verskeie produkte wat die voëls nie sal benadeel nie terwyl een of twee ongelukkig te giftig is. Die boer se keuse van dipstof word vergemaklik met die renostervoël-versoenbaarheidskenteken wat op sulke dipstowwe verskyn. Boere kan gerus ook die Griffon Gifinligtingsentrum by 082-446-8946 skakel as hulle wil weet watter produkte om te gebruik ten einde die renostervoëls nie te benadeel nie.
Een van die uitdaging van renostervoël-versoenbare ektoparasietbeheer lê in die sinvolle bestuur van weerstand. Daar is streke in die land waar die bloubosluis reeds feitlik heeltemal weerstandig teen peritroied dipstowwe is. Dienooreenkomstig is dit nodig om diere produkte te behandel wat nie noodwendig versoenbaar met renostervoëls is nie. Met bietjie slim voetwerk en dinkwerk kan mens egter wel die produkte gebruik om die weerstand te breek sonder om die voëls te veel in gevaar te stel. Weereens kan boere die nommer hierbo skakel vir raad en leiding rondom die netelige kwessie.
Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe se Operasie Renostervoël onder leiding van Arnaud le Roux werk nou saam met die landboubgemeenskap vir die bewaring en hervestiging van renostervoëls. Daar is reeds in die Oos-Kaap by Queenstown onder leiding van Kate en Swithan Webster ‘n hele aantal rooibekkies hervestig en die voëls vaar uitstekend. Ander plekke waar rooibekkies hervestig is sluit in die Andries Voslooreservaat in die Oos-Kaap, Rankinspas in Limpopo provinsie en KwaZulu-Natal. Dis werklik bemoedigend om te sien hoe die boere die voëls verwelkom en help met allerhande slim idees soos neskaste, slaapplekke en goeie vee- en wildbestuur.
Die doodsteek van renostervoëls bly steeds die onverantwoordelike gebruik van landboumiddels soos tuis gemengde disptowwe. Geen privaatindiwidu kan ‘n dipstof korrek voorberei en al die sogenaamde “boerespecials” hou vir die voëls en die boere ‘n groot gevaar in. Hierdie tuis mengsels is dikwels die begin van parasiteweerstand en skep vir die boere groot kopsere. Hou maar by die wettige en bekende middels en gee die bosluise alle opdraende en die renostervoëls ‘n kans!