Van tyd tot tyd word die volgende stellings deur lede gemaak: “daar word te veel tyd afgestaan aan skietaktiwiteite ten koste van jag!” of “die SA Jagters- en Wild-bewaringsvereniging (SAJWV) het in ’n skietvereniging ontaard!”
Elke persoon wat hom/haarself ’n verantwoordelike jagter noem, moet dit hul besigheid maak om deurlopend aan hul skietvernuf te werk. Om een of tweekeer per jaar net voor ’n jagtog ’n paar skote te skiet kwalifiseer nie as voldoende voorbereiding nie. Die deurlopende klagte van wildboere gaan oor die gebrekkige skietvernuf van ’n groot groep jagters. Die wildboere is met reg onsteld wanneer swak voorbereide jagters sonder behoorlike skietoefening in die proses hulle wild kwes. Die oomblik wat jy aanlê vir die skoot op ’n wilde dier, begin die jagter se “verantwoordelikhede” en die belangrikste verantwoordelikheid is om jou prooi so vinnig (verkieslik met die eerste skoot) moontlik dood te skiet. Dit impliseer dat die jagter nie net ’n goed geoefende skut moet wees nie, hy moet ook sy beperkinge ken en weet wanneer om te skiet of nié te skiet nie.
Daar is ’n baie groot groep van ons lede wat nie deelneem aan die talle skiet-geleenthede wat op tak, streek en nasionale vlak aangebied word binne die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging nie. Hierdie geleenthede verbeter die lede wat wel daaraan deelneem se skietvernuf as jagters, veilige wapenhantering word beklemtoon, ad hoc skietopleiding word op takvlak aangebied deur ervare lede en deelname aan kompetisies op tak- en streekvlak is beskikbaar, asook die geleentheid om te kwalifiseer vir kompetisies op nasionale vlak binne die SAJWV.
My reaksie op die stellings “dat die SAJWV in ’n skietvereniging ontaard het”, is die volgende: Die persentasie jagters wat nie gebruik maak van die geleenthede om gereeld aan skietaktiwiteite deel te neem nie is steeds onaanvaarbaar groot en daarom het die deelname deur lede aan skietaktiwiteite, die potensiaal om geweldig uit te brei. Die Vereniging se doelwit is om meer en meer lede by die skietaktiwiteite te betrek met die volgende fundamentele doel voor oë: “om van hul beter skuts in die jagveld te maak.” Indien die Vereniging dan volgens die kritici al meér en meér in ’n skietvereniging ontaard, word dit as ’n kompliment beskou in bogenoemde konteks.
Indien dit ook bedoel is as kritiek aangesien skuts hulle toerusting soos gewere, teleskope ens opgradeer en ammunisie herlaai vir beter resultate, sien ek dit as ‘n uiters positiewe ontwikkeling. Indien ‘n persoon bereid is om dit alles te doen om sy skietvaardigheid en –resultate te verbeter, dan is daar ‘n reeks positiewe gevolge! Ek stem saam daar is ‘n verskil tussen suiwer kompetisietoerusting en praktiese toerusting vir jaggebruik. Bv. ‘n 7 kg geweer met ‘n 28 duim (712 mm) swaar loop en ‘n teleskoop geskik vir lang afstandskiet is nie ideaal vir gebruik in die bosveld nie.
Bogenoemde kombinasie mag egter ‘n uitstekende keuse wees vir ‘n springbok voorsitjag op die oop vlaktes van die Vrystaat of Karoo! Dit is keuses wat elke jagter langs die pad moet maak vir die verskillende jag- en skietscenarios. Dit is een van die redes hoekom jag en skiet so ‘n opwindende tydverdryf is, veral vir die verslaafdes onder ons! Ons is versot op die geleenthede om te leer, te eksperimenteer en te verstel aan ons toerusting tot ons tevrede is met die eindresultaat!
Iemand het eenkeer gesê, dat om ‘n “goeie skut” te wees afhang van:
- Eerstens die feit dat jy moet skiet;
- Tweedens die feit dat jy so gereeld moontlik moet skiet en
- Laastens, dat jy as jagter so gereeld moontlik van gesimuleerde veldskietposisies moet skiet.
Die verskillende skietoefeninge ontwikkel deur die Skietkomitee van die SAJWV simuleer byvoorbeeld, jag op vlakte, bosveld en gevaarlike diere op ‘n skietbaan – dit is slegs enkele van die bestaande skietoefeninge. Volgehoue oefening en die gebruik van verskillende skietposisies op die skietbaan en in die jagveld, ontwikkel die jagter se skietvaardighede tot op die punt waar die besluit om ‘n skoot met vertroue op wild te skiet, of nie, soveel makliker gemaak word.
Die jagter ontwikkel ‘n gevoel vir sy eie beperkinge, na my mening een van die belangrikste “vaardighede” wat ‘n verantwoordelike jagter kan besit. Aan hierdie vaardigheid moet jy lewenslank werk om te verseker dat jy altyd bewus bly van jou beperkinge!
Die Vereniging kan nie te veel konsentreer op op die skietvaardighede van lede nie – te min, ja – te veel, beslis nie!