Die oomblik wat die jagter aanlê vir daardie belangrike eerste skoot op ʼn dier, rus daar ʼn groot verantwoordelikheid op sy skouers om ’n vinnige dood vir sy prooi te verseker met die eerste skoot. Baie diere word gekwes weens swak skootplasing. Praktiese skietvaardighede of die gebrek daaraan is dikwels die oorsaak van ’n gewonde dier wat onnodig ly.
Hoekom is die “eerste skoot” so belangrik? Met die eerste skoot is die jagter in beheer van die situasie en kan hy die omstandighede bepaal voor hy sneller trek. Hy kan ’n gunstige skietposisie inneem, wag tot die dier stilstaan, besluit waar sy mikpunt is en ’n goed geplaaste skoot skiet. Indien die eerste skoot die dier kwes, het die jagter beheer verloor oor die situasie en bemoeilik die omstandighede vir ’n opvolgskoot/-skote. Die dier het jou gesien, is in pyn, vol adrenalien en skrikkerig en jy gaan waarskynlik baie vinnig moet skiet uit ’n skietposisie wat nie noodwendig stabiel is nie op ’n bok wat beweeg. Die jagter se bokkoors is nou ook vervang met pure senuwees, want jy sien hoe jy betaal vir ’n bok wat gaan wegkom. Dis omstandighede wat nie bevorderlik is vir akkurate plasing van ʼn opvolgskoot nie. Maak dus seker van jou eerste skoot.
Twee faktore bepaal skootplasing op wild onder jagtoestande:
- die jagter se kennis van die dier se anatomie en die ligging van die lewensbelangrike organe om te verseker dat die eerste skoot die doodskoot is;
- die jagter se praktiese skietvaardighede om die skoot onder jagtoestande akkuraat te skiet.
Wanneer die jagter ʼn geweer/teleskoop se zero op die skietbaan bevestig, ladingontwikkeling doen met herlaaide ammunisie of ’n teleskoop op ʼn geweer instel, moet hy dit vanaf ’n skietbank doen omdat hy sover moontlik die menslike faktor moet uitskakel wanneer hy toerusting en/of ammunisie toets. Wanneer die sessie vanaf die skiettafel suksesvol afgehandel is, behoort die geweer-teleskoop-ammunisie kombinasie aan sy vereistes te voldoen. Die tweede komponent van skootplasing is die jagter se praktiese skietvaardigheid en vermoë om die skoot onder jagtoestande akkuraat te skiet. Hierdie artikel fokus op die menslike faktor.
Oefening van praktiese skietvaardighede: ’n Verantwoordelike jagter moet weet wat sy skietbeperkinge onder jagtoestande is. Hy kan slegs hierdie beperkinge bepaal deur gereeld te oefen vanuit veldskietposisies met die tipe ondersteuning wat hy vir sy vuurwapen in die veld sal gebruik. SA Jagters het ’n verskeidenheid jaggebaseerde skietoefeninge ontwikkel met verskillende wapentipes en uit verskillende skietposisie wat jagtoestande op ʼn skietbaan naboots. Gaan na www.sahunt.co.za – Skietsake – jaggebaseerde skietoefeninge vir ʼn reeks van praktiese skietoefeninge.
Praktiese skietposisies: Die klem op die verskillende skietposisies is nodig dat die jagter vinnig en instinktief ’n stabiele en gemaklike skietposisie inneem vir daardie belangrike eerste skoot op wild. ʼn Onstabiele skietposisie wat oorhaastig ingeneem word veroorsaak gereeld kwesskote. Die skut weet dikwels nie dat dit die oorsaak was van ʼn swak skoot nie. Gereelde skietoefening uit die staan-, kniel-, sit- en lêposisies met of sonder ondersteuning verseker dat die skut die tegnieke van die verskillende skietposisies vervolmaak en die skietposisies mettertyd instinktief gebruik. Hier volg ʼn voorbeeld ter illustrasie: ʼn Paar jaar gelede stap-en-jag ek in ranteveld in die Noord-Kaap en sien ʼn koedoebul en –vers op ongeveer 120m teen ʼn kliprant. Die koedoes het my reeds gesien en die bul staar stip na my terwyl die vers reeds na links begin wegstap. Ek weet dat ek net ʼn paar sekondes het om te skiet voor die bul ook begin wegbeweeg. Ek het een van twee keuses vir ʼn skietposisie: sittend met kort skietstokke wat aan my belt hang (ek sou dit verkies aangesien dit ʼn baie stabiele opsie bied) of staande met die lang enkel skietstok in my linkerhand. Die sitposisie sal vir twee redes nie werk nie: die driedoringbossies rondom my staan ongever een meter hoog wat ʼn skoot uit die sitposisie onmoontlik maak. Tweedens weet ek dat die bul sal weghardloop sodra ek beweeg om die kort skietstok van my belt af te haal en daarna gaan sit. Ek besluit op die staande posisie en ondersteun die geweer oor die lang enkel skietstok. Binne 5 sekondes na ek die koedoes die eerste keer gewaar het, skiet ek en sien hoe die bul na links vir ongeveer 40m teen die rant se hang hardloop en neerslaan na ʼn hart/long skoot.
Ek stap teen die rant uit waar die koedoe lê en ek dink na oor my besluit om die relatief moeilike skoot met die lang enkelskietstok uit ʼn staanposisie op 120m te skiet en ek vra myself: “was dit ʼn riskante skoot wat ek pas geskiet het?” Die antwoord: “gereelde skietoefening op die skietbaan en in die jagveld het die skoot moontlik gemaak.” Ek het besluit om te skiet toe ek deur die teleskoop kyk en sien dat die geweer stabiel is en die beweging van die kruishaar oor die teikenarea binne perke is. Ek skiet die afgelope 25 jaar elke jaar op die skietbaan ʼn minimum van 200 tot 300 skote met skietstokke uit verskillende skietposisies. Verder jag ek reeds vir die afgelope 35 jaar met die eenvoudige houtskietstokke soos in die foto’s hieronder geïllustreer.
Gebruik van ondersteuning (skietstokke of bi-pod) onder jagtoestande: My persoonlike ondervinding van jag in bosveld-, vlakte- en berg habitat soos hierbo verduidelik, bevestig die noodsaaklikheid van praktiese skietvaardighede en die gebruik van skietstokke as ondersteuning. Ek jag graag so dikwels moontlik te voet waar die terrein dit toelaat. Wanneer ek begin jag, is my geweer in my regterhand en my skietstokke in my linkerhand – altyd, sonder uitsondering.
Ek dra gewoonlik een van twee tipes liggewig houtskietstokke (sien die foto’s) wanneer ek jag afhangende van die tipe habitat. Die een is van twee 12mm deursnee houtstokke ongeveer 800mm lank met ligte nylontou vasgebind om ʼn X-tweepoot skietstok te skep wat uit sit- en lêposisies gebruik word om die geweer te ondersteun. Jag in vlakte en bergagtige habitat behels gewoonlik skote oor langer afstande as in boswêreld. Onder die omstandighede is behoorlike ondersteuning vir jou geweer van kardinale belang vir akkurate skootplasing. Ek skiet byna alle wilds oor langer afstande vanuit ’n lê- of sitposisie met die skietstokke vir ondersteuning. Ek verkies die veelsydigheid van die sitposisie. Die tweede skietstok wat ek gebruik is ʼn 25mm deursnee, 1,8m lank enkel houtskietstok wat ek uit die kniel- en staanposisies gebruik in bosveld habitat waar skote dikwels op kort afstand is. Die meerderheid van hierdie skote is op afstande van minder as 70 meter geskiet.
Onder sekere omstandighede (habitat) bied die kombinasie van hierdie twee tipes skietstokke groter veelsydigheid in die keuse van skietposisies en ondersteuning. In die voorbeeld hierbo, sou ek dalk die skoot op die koedoebul verloor het indien ek nie die lang skietstok by my gehad het nie. Nog ʼn voordeel van die lang skietstok is dat dit sterk genoeg is om te gebruik as ʼn stapkierie in baie rowwe terrein (bv. klipperige rante of berge). Wat die jag op dié spesifieke plaas so interessant maak is die diverse habitat waar jy nou ʼn skoot op 20m tussen die driedoringbosse skiet en die volgende een op 250m met ʼn koedoe wat teen ʼn sandduin of rant se hang staan.
Die jagter se skietvermoë en/of self opgelegde beperkings: Volgehoue skietoefening en die gebruik van die praktiese skietposisies op die skietbaan en in die jagveld, ontwikkel skietvaardighede tot op die punt waar die jagter instinktief besluit om ’n skoot op ʼn bok te skiet – of nie. Hierdie aanvoeling vir jou skietvermoë en/of self opgelegde beperkinge onder jagtoestande tesame met gesonde oordeelsvermoë, onderskei jou as verantwoordelike en ervare jagter. Hierdie is ʼn vaardigheid waaraan ʼn jagter vir die res van sy jagloopbaan moet werk – moet dit nooit afskeep nie.
Skote uit die vryhandstaanposisie: By jag kry ʼn mens soms die geleentheid om ʼn vinnige eerste skoot op kort afstand na wild te skiet met geen ander opsie nie as die vryhandstaanposisie sonder ʼn skietstok of ander hulpmiddel. Dit is ’n baie moeilike en riskante skoot om te skiet en verg baie oefening. Op die skietbaan sien jy dikwels hoe uitstekende skuts nie ’n akkurate skoot uit hierdie posisie suksesvol kan skiet nie. Die jagter se aanvoeling van sy skietvermoë help hom om die besluit te neem of hy moet skiet – of nie. Die moontlikheid van ʼn kwesskoot vanuit hierdie posisie is baie goed. Gebruik verkieslik ’n skietstok of ander hulpmiddel. Indien die dier wegkom in die sekonde of twee, drie wat dit jou neem om in posisie te kom met die skietstok, gaan eenvoudig aan met die jag en wag op ’n volgende, beter kans.
Enkelpootskietstok versus twee- of driepootskietstok: ’n Twee- of driepootskietstok bied beter stabiliteit as ʼn enkel skietstok. Ek verkies die enkelstok veral wanneer wild op kort afstand teëgekom word soos in bosveld tipe habitat, omdat dit lig en hanteerbaar is. Ek dra dit in my linkerhand en kan dit en die geweer saam baie vinnig in posisie kry vir ʼn ondersteunde skoot soos in die voorbeeld van die koedoebul hierbo. Dit is belangrik om nie ‘n geluid te maak wanneer daar in posisie gekom word vir die skoot nie – indien die pote van die skietstok of geweer teen mekaar stamp mag dit jou die skoot kos. Wanneer ʼn gids saamstap, is ʼn twee- of driepoot ideaal omdat die gids dit kan dra en opstel vir die skoot terwyl die jagter net die geweer hanteer. Dit kan moeilik wees om self beide die skietstok en die geweer op te stel sonder om ‘n geluid te maak en die kans is goed dat die dier verdwyn voordat jy gereed is om te skiet. Eksperimenteer en bepaal wat vir jou werk en oefen vir instinktiewe gebruik onder jagtoestande.
Bi-pod op ʼn geweer: Vir sekere toepassings onder jagtoestande is ʼn bi-pod op ʼn geweer geskik en baie nuttig, veral uit die lê- en sitposisies wanneer ʼn mens in vlakte- en bergagtige habitat jag. Eksperimenteer met meer as een opsie en besluit wat vir jou werk. In bosveldterrein waar ʼn mens te voet jag, sal ek dit nie gebruik waar ‘n geweer heeldag lank tussen bome en bosse gedra word nie aangesien ‘n bi-pod onnodige gewig toevoeg en ‘n geweer lomp maak om te hanteer vir die tipe jag. Ek verkies los skietstokke onder die omstandighede as ʼn praktiese oplossing.
Alhoewel ek die hele jaar deur deeneem aan jaggebaseerde skietkompetisies op die skietbaan, is ek eerstens ‘n jagter! Met elke tegniek van praktiese skietvaardigheid wat ek onder kompetisietoestande gebruik, berei ek myself voor vir die jag. My deelname aan die skietkompetisies het een doel voor oë – om van my ’n beter skut onder jagtoestande te maak. Deur dieselfde tegnieke onder alle omstandighede te gebruik, word dit tweede natuur. Jy dink nie daaroor nie, dit gebeur outomaties.
Verbeter jou praktiese skietvermoë só:
- Fondament van skietvaardigheid: Die basiese skiettegnieke soos natuurlike rigting, vinnige opspoor van jou teiken deur die teleskoop, beheer van asemhaling, snellerdruk en -beheer en deurvolg van die skoot, is die grondbeginsels van skiet.
- Kom so na as moontlik aan die grond vir maksimum stabiliteit (visualiseer jouself as die skietplatform). Lêposisie is die eerste keuse, daarna volg sit-, kniel- en staanposisies (verwys na foto’s hieronder);
- Gebruik ’n skietstok of ander vorm van skiethulpmiddel vir elkeen van die skietposisies om jou stabiliteit en vermoë om akkuraat te skiet, te verbeter;
- Oefen die skietposisies by elke moontlike geleentheid tot dit tweede natuur is en jy dit instinktief kan doen (’n analogie is die bestuur van ’n motor – wanneer het jy laas doelbewus gedink na watter rat jy volgende moet verwissel?)
- Senterslagammunisie is duur, selfs al herlaai jy. Oefen met ʼn luggeweer of 22 randslaggeweer. Dit bied ʼn bekostigbare en doeltreffende alternatief.
Nota: vir meer inligting verwys na die “Handleiding vir Skietvaardigheidsontwikkeling vir Jagters”
My gunstelingskietposisies wanneer ek jag
Die sitposisie met ʼn stel kort skietstokke is baie akkuraat tot op 200 meter. Let op die gebruik van die geweerband en die posisie van albei arms se elmboë wat bo-op die knieë rus. Hierdie posisie is baie veelsydig en stabiel en ek verkies dit vir die meeste van my skote, veral oor langer afstande.
Die lêposisie met dieselfde stel kort skietstokke wat baie akkuraat is tot op 300 meter en verder
Die knielposisie met die enkelskietstok vir gebruik op ʼn kort afstand in die bos, let op die gebruik van die geweerband
Die staanposisie met die enkelskietstok vir gebruik op ʼn kort afstand in die bos. Let op die gebruik van die geweerband.