Die jaar 2018 het met groot spoed verbygegaan en hierdie is die laaste beplande nuusbrief vir 2018. So binne twee weke van nou af maak RSA toe en bykans almal gaan hou vakansie. Hiermee, net voor die jaar op `n einde kom `n paar laaste sake vir u kennisname.
Kersboodskap van die President
Soos ons nou al gewoond geraak het rig die President van SA Jagters `n Kersboodskap aan alle lede. Carl Arnold het die moeite gedoen om sy gedagtes te formuleer en u kan sy Kersboodskap aan lede hier lees.
Verkiesing van Adjunk President
Op die eerste vergadering van die nuwe Raad gehou op 15 November 2018 is Basie Bergh deur die Raad verkies as Adjunk President soos die Grondwet bepaal. Basie behou ook terselfdertyd die portefeulje Jagsake as sy verantwoordelikheid. Baie geluk met hierdie verkiesing Basie.
Fondsinsameling Teenstroping
Tydens die Kongresdinee het Jan Lubbe van die wapenwinkel Sons of Guns en Johannes Coertze van Formalito `n CZ .375 H+H as donasie geskenk wat ons volgende jaar sal uitloot om geld bymekaar te maak ten bate van SANParke se teenstropingsaktiwiteite. Wees dus op die uitkyk vir `n geleentheid volgende jaar om teen `n relatiewe klein bedrag die kans te kry om hierdie geweer in `n gelukkige trekking ten wen.
Ledetal en Toegewyde Status
Op 30 November 2018, staan die ledetal van SA Jagters op 42 393 nadat alle lede wie se ledegeld nie tot op datum betaal was nie, se name van die lys van aktiewe lede verwyder is.
Onthou dat elke lid van SA Jagters wat 10 lede in `n gegewe jaar vir SA Jagters werf die volgende jaar gratis lidmaatskap ontvang. Takke wat lede werf kry ook erkenning met `n gedeelte van die ledegeld, bo en behalwe die tak-subsidie wat na die Tak deurgegee word.
Teen die einde November 2018, het 15 990 van ons toegewyde jagters reeds voldoen aan die vereistes om die status te behou, terwyl 1 191 van hierdie lede verdere aktiwiteite moet registreer. Hierdie lede sal binnekort `n SMS kry om óf aktiwiteite terugwerkend te registreer óf `n “geen aktiwiteit” verslag in te dien.
9 600 Toegewyde sportskuts voldoen reeds aan die vereistes om die status te behou, terwyl 1 158 lede hulle aktiwiteite terugwerkend moet registreer of `n “geen aktiwiteit” verslag moet indien. Ook hierdie lede sal in die loop van die week `n SMS in die verband ontvang.
Dit gebeur dat sommige lede wat beide toegewyde jagter- en toegewyde sportskutstatus het, vergeet om beide statusse in stand te hou. Maak dus seker dat u aan beide statusse se vereistes voldoen.
Veilige Bewaring van Wapens en Reis met Wapens
Die vakansieseisoen breek aan en baie van ons lede gaan weg van die huis vakansie hou. Maak asseblief seker alle wapens is weggesluit in `n goedgekeurde kluis voordat u vertrek en hou die sleutels by u. Moenie dit in `n laai in die huis agterlaat nie.
Indien u `n vuurwapen saam neem, onthou `n motor of onder die sitplek in `n motor is nie `n veilige plek om u wapen te laat nie. Moet asseblief nie wapens in u voertuig toesluit nie.
Wanneer u enige wapen by u dra, moet die wapen bedek wees. Dit beteken in `n sak of holster of onder u klerasie. Bewaar altyd u wapen asseblief veilig, ook tydens vakansies.
Sportskietnuus
Skietkompetisies
Alle lede wat aan die 2019 IGRF-sportskietaktiwiteite wil deelneem, moet nou al registreer. Kry die registrasievorm hier.
Handaflewering van die SA Jagter
Ons het voorheen berig dat die SA Jagter-tydskrif per hand by u woonadres afgelewer kan word. Hierdie aflewering is baie meer betroubaar as die poskantoor se aflewerings. Om te verseker dat u die tydskrif ontvang, moet u straatadres korrek op ons stelsel wees. Indien u die SA Jagter per hand afgelewer wil hê, maak seker dat u woonadres korrek is op die lede-administrasiestelsel en stuur dan `n e-pos aan admin@sahunt.co.za
Jagsake
Nuwe Bestuurder Jagsake
Dit is `n voorreg om met lede die nuus te deel dat SA Jagters `n nuwe Bestuurder Jagsake aangestel het. Boetie Kirchner is aangestel om in Januarie 2019 hierdie pos te beklee. Hy sal vanaf 7 Januarie in die kantoor wees om hierdie verantwoordelikheid te aanvaar. Boetie is opgelei as professionele jagter en het `n hele aantal jare as professionele jagter gewerk. Sy kontakdetail is soos volg: e-pos adres: boetiek@sahunt.co.za Selfoonnommer: 0827709387
Boetie, baie welkom hier in die kantoor van SA Jagters. Ons sien uit na die klomp nuwe gedagtes en idees waarmee jy dalk vorendag mag kom.
Boetie was voorheen die voorsitter van Griekwaland Wes-tak in Kimberley en hy is daarom redelik bekend met die aktiwiteite van SA Jagters sowel as die manier waarop ons sake doen.
Jag van Gevaarlike Wild
Lede is bekend met die opleiding vir die jag van gevaarlike wild wat ons in samewerking met die Wildlife College aanbied. Die opleidingsdatums vir 2019 is reeds bekendgestel. Hierdie opleiding fokus op die jag van olifant, buffel, leeu, hiëna en luiperd. Slegs ses (6) inskrywings per kursus word toegelaat. Lede kan vooraf groepe vorm wat saam die opleiding doen. Meer inligting is hier beskikbaar.
Buffeljag-geleentheid
Die International Wildlife Fellowship Foundation bied `n kompetisie aan waarin `n kaartjie van R50 deelnemers die kans gee om `n sewe-dag buffeljag ter waarde van sowat R340 000 in die Lebombo Game Management gebied in Mosambiek te wen. Kyk hier vir meer inligting. Dit is `n kans van `n leeftyd om `n buffel te jag in een van die redelik ongerepte dele van Afrika.
Persverklaring oor Onverantwoordelike Jag van Olifante
In die onlangse verlede is daar by twee geleenthede in die pers berig oor olifante wat op onverantwoordelike wyse gejag is in reservate aangrensend aan die westekant van die Nasionale Krugerwildtuin. Ten spyte van die feit dat SA Jagters nie oor die volle feite beskik nie is ons tog van mening dat die optrede in beide gevalle nie verantwoordelik was nie. `n Persverklaring wat hierdie soort van gedrag aanspreek is uitgereik hierooor en `n kopie van die persverklaring is hier beskikbaar.
Bewaring
Die Departement Omgewingsake het twee nuwe beleidsdokumente vir kommentaar in die staatskoerant gepubliseer.
Die Minister van Omgewingsake het die Konsep Nasionale Biodiversiteitsraamwerk ingevolge die Wet op die Bestuur van Nasionale Omgewingsbiodiversiteit, 2004 (Wet 10 van 2004) vir openbare kommentaar gepubliseer. SA Jagters het die kommentaar van lede ontvang, gekonsolideer en ook verdere kommentaar bygevoeg. SA Jagters se kommentaar is hier beskikbaar.
Die waarnemende Minister van Omgewingsake het ook die voorgestelde hersiene Norme en Standaarde vir die Bestuur van Olifante vir kommentaar in Staatskoerant Nr. 42015 (Kennisgewing Nr.1208) gepubliseer. SA Jagters het ook hierop die gekonsolideerde kommentaar met toevoegings gelewer. Dit is hier beskikbaar.
Lizanne Nel, die Bestuurder Bewaring van SA Jagters sal van 4 tot 7 Desember 2018 die vergadering van die IUCN se African-Eurasian Migratory Waterbird Agreement in Durban bywoon. Tydens hierdie byeenkoms sal veral aandag gegee word aan die impak van lood op watervoëls. By dié geleentheid, sal die bekende dr Slang Viljoen sal ook SA Jagters verteenwoordig met sy aanbieding wat handel oor die sinvolle bestuur en benutting van jagbare voëlspesies.
Nuwe Tak
Tak no 81 van SA Jagters is verlede week gestig in die omgewing van Springbok in die verre Noordweste. Baie geluk en baie welkom in die nuwe Namakwa-tak onder leiding van Carel Oberholzer. Ons vertrou die lede sal baie vreugde put uit hierdie nuwe tak en dit tot groot hoogtes neem.
11. Beskikbaarheid van S 365 en S 335 Kruit
Rheinmetall Denel het bevestig dat kruit vir herlaai eers in 2019 plaasvind. As u nie u voorkeur kruit kan bekom nie, probeer intussen maar alternatiewe produkte. Sodra ons enige bevestiging kry van die beskikbaarheid van die plaaslike kruit sal ons lede laat weet.
Vuurwapenlisensies: Konsepwysigingswet
Dr Pieter Groenewald van die VF Plus se konsepwysigingswet is inderdaad bespreek in die Portefeuljekomitee op Polisie. Slegs `n beslissende stem van die Voorsitter van die Komitee het die konsepwysigingswet verhoed om verder te gaan. Die kantoor van die kommissaris van Polisie het beweer dat `n konsepwysigingswet beskikbaar is vir oorweging by die Minister van Polisie. Sou daar enige verdere inligting beskikbaar raak hieroor sal ons lede in kennis stel.
Hernuwing van Bevoegdheid
Ons herinner lede om bevoegdheidsertifikate gereeld na te gaan. Onthou dat u bevoegdheid verval saam met die laaste lisensie van die betrokke tipe wapen. Indien u `n handwapen het wat ingevolge Art 13 vir selfverdediging gelisensieer is, is die lisensie geldig vir 5 jaar. Wanneer die laaste lisensie van die handwapens verval dan verval u bevoegdheid vir handwapens ook (behalwe as u `n handwapen het wat ingevolge Art 16 gelisensieer is wat dan geldig is vir 10 jaar).
Maak seker u weet wanneer u bevoegdheid verval en doen betyds aansoek om die bevoegdheid te hernu. Indien daar kans kom om die wapens waarvan die lisensie verval het te herlisensieer en u bevoegdheid is nie op datum nie, gaan dit u niks help nie.
Leesstof
Dit gebeur soms dat `n mens op die mees onverwagse plekke iets interessants raakloop. Tydens `n onlangse besoek aan die Natalse Middeland het ek op `n klein plekke net buite Howick afgekom op `n kopie van die boek Macpherson’s Elephant geskryf deur Edward Ostrosky.
Alhoewel die boek `n novelle is, is dit gebaseer op sy ervaring as die stigter wildbewaarder van Tembe Olifantpark in die Noorde van Kwazulu-Natal. Die boek lees lekker en is moeilik om neer te sit.
Ed verkoop die boek teen R299 per kopie en hy sal die posgeld vir lede van SA Jagters in hierdie prys insluit. As u een van die boeke wil bestel, lees meer daaroor hier. Wanneer u bestel, bevestig dat u `n lid is van SA Jagters en stuur u lidnommer saam sodat u nie posgeld hoef te betaal nie.
Een van ons lede, Fanus Venter, woon in die Suid-Kaap en is ook lid by Grysbok-tak. Fanus het `n boekie geskryf Wat maak `n Jaggeweer Akkuraat. Die boek lees lekker en beskryf stap-vir-stap in leketaal elkeen van die faktore wat `n rol speel by die akkuraatheid van `n jaggeweer. Die gewone prys vir die boek is R250, maar Fanus verkoop die boek tot einde Desember 2018 aan lede SA Jagters teen R230, posgeld ingesluit. Bestel dit direk van Fanus by jaggeweerakkuraat@gmail.com Stuur u lidnommer saam met die bestelling om vir gratis posaflewering te kwalifiseer.
Enigeen van die bostaande twee boeke is `n goeie Kersgeskenk vir jagters.
Geskiedenis van SA Jagters
SA Jagters vier sy 70ste bestaansjaar in 2019. Ons het reeds redelik ver gevorder met die insameling van inligting vir die gedenkboek. Ongeveer twee weke gelede het een van ons lede `n klompie dokumente uit sy oorlede vader se versameling vir ons gebring. Een van die interessante dokumente was die finansiële state van 1968 toe die totale inkomste van die Vereniging R300 vir die jaar was. Ledegeld was destyds R6 per jaar en lede het toe al gekla dat dit te veel is.
Stuur asseblief enige interessante inligting waaroor u beskik na prof. Potgieter by pieter.potgieter@safricom.co.za
Kommersiële sake
Soos gebruiklik, sluit ons skakels in na ons webwerf vir meer inligting oor spesiale aanbiedings vir SA Jagters se lede. Kliek op die skakel waarin u belangstel.
Die volgende leweransiers bied spesiale voordele aan lede van SA Jagters.
- Toyota SA
- Westvaal Nelspruit
- Hinterland Groep
- Wildman Hunting and Outdoor
- Hokaai Slaghuis
- Die Wildshoekie Vleismark
- LAVA Vakuumverpakking
- Selftrack
- MAINSU Kragopwekkers
- Heartech Gehoorbeskerming
- Herlaaikursusse deur Cassie Nienaber
- Uitlaatstelle van De Graaf Autosentrum in Van der Hoffweg Pretoria
- Helle-messe
Kliek hier vir meer inligting oor enige van die bogenoemde voordele.
Ivoorprojek
Die ivoormes-projek is weer goed op dreef nadat ons effe agter geraak het met bestellings en aflewerings. Die projek behels die maak van messe met hewwe uit ivoor afkomstig van olifante wat Nico van Rooyen gejag het. Plaas gerus u bestellings so gou moontlik om teleurstellings te voorkom aangesien slegs 150 messe in hierdie projek gemaak word. Daar is reeds 64 bestellings.
Belangstellendes kan R5 500 in die bankrekening van SA Jagters betaal. Die rekening is by ABSA en die rekeningnommer is 01443990077; en die takkode is 632005. Gebruik asseblief die verwysing Mes en u selfoonnommer. Stuur ook die betalingsbewys aan admin@sahunt.co.za
SA Jagters kantoor gesluit in Desember
SA Jagters se kantoor sluit op Vrydag 7 Desember 2018 en heropen op 7 Januarie 2019.
SA Jagters is onderhewig aan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes wat moet toesien dat personeel verlof neem. Die “server” sal ook in hierdie tyd afgeskakel wees. In noodgevalle kan u met enigeen van die bestuurders in verbinding tree.
Feesgroete
Vergun my ten slotte die geleentheid om u elkeen vrede an vreugde toe te wens vir die Kerstyd. Diegene wat gaan reis, reis veilig.
Vriendelike groete
Fred Camphor
SA Jagters: HUB