Die voorkoms van strikke in die veld het geweldig toegeneem die afgekope tyd, veral met die Covid pandemie. Verskeie takke is egter lank reeds aktief betrokke om onwettige stroping van wild die hok te slaan.
Die Vereniging se Snare Buster projek, waar ons hande vat met ander bewaringsvennote om strikke in wildlewegebiede te verwyder, is volstoom aan die gang. Lede werk vrywillig om diere van `n gewisse en pynlike dood deur strikke te red en bestee baie ure in die veld – soms in gevaarlike omstandighede om areas skoon te maak van strikke.
Gedurende die laaste 2-3 jaar, is die volgende diere gekry met strikke aan in die Phalaborwa omgewing in gekoordineerde operasies tussen Mopanitak van SA Jagters en die Phalaborwa Natural Heritage Foundation:
3 olifante – al drie gered
2 buffels – een gered, een het dood gegaan terwyl ons die strik afgehaal het
1 leeu wyfie – gered
5 hienas – 3 gered, 2 weg
1 waterbok – gered
4 vlakvarke – 3 gered, een weg
2 rooibokke – 1 vankant gemaak en 1 weg
1 nyala – gered
1 bees – gered
2 kameelperde – 1 gered, 1 weg
Bogenoemde sluit nie diere in wat reeds dood in strikke aangetref is nie.
‘n Seekoeikoei en en haar kalf is in samewerking met veeartse en ander bewaringsinsansies in Maart 2022 in Phalaborwa, met koordinasie deur die Mopanitak, verdoof om ‘n strik om die koei se bek te verwyder wat reeds in haar weefsel ingesny het.
Om met reddingsoperasies te help en finansiële steun te verleen vir veeartsonkoste soos die verdowing van diere om strikke te verwyder en wonde te behandel, kos baie man-ure en geld. Met die toename in gevalle, raak die koste van só `n aard dat ons lede van die publiek versoek om `n bydrae te maak sodat ons kan voortgaan om hierdie diere te red. Betaal skenkings elektronies in by Absa-rekeningnommer 4093220340 met Snare Busters as verwysing. `n Belastingsertifikaat kan uitgereik word indien nodig.
Die bewaringspan van die Umfolozitak in noord Natal het ook hierdie jaar reeds verskeie teenstropingsoperasies gehad waar areas waar daar geen paaie is nie, te voet gefynkam is vir strikke. Buiten vir gewone wildspesies, is krokodille en seekoeie ook gekry met strikke aan.