In die vroeë jagkulture soos die Eskimo’s, San (Boesmans), Amerikaanse Indiane en ons eie Boere het die senior jagter ‘n baie prominente rol gespeel en is hulle met die grootste respek en eerbied behandel. Want, al was so ‘n jagter nie meer só aktief nie, was hy ‘n ryk bron van kennis en ervaring. Dit is dikwels in die vorm van jagstories uit sy verlede, rondom ‘n kampvuur, veral aan die jonger geslag jagters oorgedra. In daardie kulture was die senior jagter dus ‘n sterk leiersfiguur en as gevolg daarvan, ‘n uiters belangrike komponent om die toekoms van jag en die suksesvolle toetrede van jonger jagters, tot jag te verseker.
Hoe vergelyk hierdie vroeë jagkulture en hul senior jagters met die huidige tydvak waarin ons as “moderne” jagter leef? Verstedeliking oor die afgelope paar dekades het veroorsaak dat daar vandag slegs ’n baie klein persentasie van mense wêreldwyd, uitsluitlik afhanklik is van jag as ’n hoofbron van inkomste en/of oorlewing. Dit het tot gevolg dat ’n baie groot gedeelte van die wêreldbevolking in veral ontwikkelde lande van baie min tot geen blootstelling aan die natuur het nie en in ’n uiters kunsmatige wêreld leef met baie min of geen begrip vir die mens se afhanklikheid van die natuur en al sy komponente.
In hierdie huidige tydvak staan die jagter uit as dié individu met ’n deeglike kennis en begrip van volhoubare benutting van natuurlike hulpbronne wat ontbreek by ’n baie groot deel van die bevolking. Die gebrek aan kennis by die groep is in baie gevalle gebaseer op onkunde oor die onderwerp. Die boodskap oor volhoubare benutting en die jagter se rol, as belangrike deel daarvan, kan nie genoeg aandag kry nie en elke jagter moet poog om daardie boodskap so dikwels moontlik te verkondig in sy invloedsfeer. Die senior jagter is ’n baie belangrike skakel in die ketting van kennis. Indien ons die senior jagters toelaat en betrek, kan hulle ‘n reuse bydrae maak om ons jagaktiwiteite met sy unieke kultuur en tradisies, verder te verryk tot almal se voordeel.
Hierdie “fonteine van wysheid en ervaring” kan baie handig by die takke van die SAJWV benut word. Kom ons skep geleenthede by die takke se ledevergaderings, of sommer net om die braaivleisvure vir die senior jagters om hul jagervarings uit die verlede met die res van die tak se jagters te deel. Dit is egter belangrik om te onthou is dat daar senior jagters is wat nie meer eie vervoer het nie en in ‘n aftreeoord of soortgelyke akkomodasie woon. Vir hierdie persone is dit dus nie meer moontlik om self by aktiwiteite van die tak uit te kom nie. Van hierdie ouer jagters het reeds hul jaggewere aan kinders en kleinkinders geskenk. Dit selfs verkoop aangesien hullle dit nie meer kan benut nie of hulle bv. nie kans gesien het vir die herlisensiërings-proses die afgelope paar jaar nie!
Ek kan my egter net die hunkering wat daar soms by hierdie senior jagters moet wees voorstel om weer te kan deelneem aan jagtersaktiwiteite, al is dit net tot ‘n beperkte mate. ‘n Senior jagter se fisiese vermoëns laat hom dalk nie meer toe om self te skiet nie. ‘n Besoek aan ‘n takskietdag gee hom egter weer die
geleentheid om met ander jagters – oud en jonk te gesels oor sake naby aan sy hart in ‘n omgewing (op ‘n skietbaan en/of in die natuur) wat vir hom kosbaar is. Hier kan hy weer aan ‘n geweer vat, die knal van skote hoor en die reuk van geweerolie en dryfmiddel beleef – belewenisse wat vir senior jagters herinneringe oproep wat waarskynlik van onskatbare waarde is.
Maak ‘n punt daarvan om hierdie ouer jagters uit te nooi, van vervoer te voorsien en hulle te betrek by takaktiwiteite tot voordeel van almal. Dink net aan die bydrae wat dit kan maak tot die lewensgehalte van die senior jagters vir wie soortgelyke geleenthede met verloop van tyd al minder en minder word.
Gedeelde kennis en ervaring het die vermoë om met rasse skrede te vermenigvuldig, betrek ons senior jagters!