Intertak Spanskietkompetisie, 17 Augustus 2019
Op Saterdag, 17 Augustus 2019 het Vrystaat Sandveld tak die nasionale SA Jagters Intertak Spanskietkompetisie op die Meerkatgat skietbaan aangebied. Daar was baie min wind en die enigste uitdaging was die mirage wat later in die dag gepla het.
Baie geluk en baie dankie aan die Vrystaat Sandveld tak vir hulle gasvryheid, aandag aan detail en vriendelike administratiewe personeel en die afsluiting met ‘n heerlike ete en prysuitdeling – dit was besonders! Basie Berg (Adjunk President) was weer die hoofbaanoffisier en met sy gemaklike en vriendelike styl het hy verseker dat alles glad verloop op die skietbaan in terme van dissipline, veiligheid en die gladde verloop van die dag. Baie dankie aan Basie en die span baanbeamptes wat heeldag gewerk het op ‘n relatief warm dag om die skietkompetisie vir die skuts moontlik te maak.
Gedurende 2019 het 193 spanne op streekvlak gekompeteer om uitgenooi te word as een van die Top 30 spanne na die nasionale Intertak Spanskietkompetisie van 2019. Net 50 skuts (10 spanne) kan per aflossing deelneem en daarom is die 150 skuts (30 spanne van 5 skuts elk) in drie aflossings opgedeel. Aflossing 1 se 50 skuts het aangetreë en die dag afgeskop met die 3 skote op die 300 m vlakte skietoefening op die springbok teiken en daarna die res van die oefening voltooi. Aflossing 2 het ‘n beurt gekry en daarna aflossing 3. Na voltooiing van die vlakte skietoefening was daar ‘n kort pouse waarin die baanoffisiere ‘n ruskans gekry het en toe is die bosveldskietoefening in dieselfde volgorde gedoen en teen 12h30 is die laaste skote geskiet.
Baie geluk aan Genl de la se Molon Labe span wat die kompetisie gewen het en die vyf skuts het elkeen ‘n Leupold 6.5 – 20 teleskoop van Safari en Outdoor ontvang. Schweizer tak se Laksmanne was in die tweede plek met elkeen wat ‘n GSR geweerkolf Safari & Outdoor ontvang het. Diamant tak se Blouklippie span was in die derde plek met elkeen ‘n R5000 geskenkbewys van Safari & Outdoor. Pretoria Oos se Swartwitpense was in die vierde plek met elkeen ‘n R3000 geskenkbewys van Safari & Outdoor. Baviaanspoort tak se Buffels was in die vyfde plek met elkeen ‘n R2000 geskenkbewys van Safari & Outdoor.
Wildehonde toekenning:
Die SA Jagters Raad het die nuwe Wildehonde Intertak Spanskiettoekenning goedgekeur vir implementering reeds in 2018. Daar is op die naam Wildehonde besluit vir die spanskiettoekenning aangesien Wildehonde in die natuur moet saamwerk/jag om te oorleef. Die Intertak Spanskiet het ‘n unieke kultuur en om die skietkompetisie te wen moet al vyf skuts in die span saamwerk/skiet en elkeen moet ‘n top telling behaal. Die kwalifiserende standaard is ‘n minimum van 3240 (90%) uit die totaal van 3600 vir die span en ‘n minimum van 1530 (85%) uit die totaal van 1800 vir elkeen van die skietoefeninge. Hierdie toekenning word op streek en nasionale vlak toegeken en elke spanlid van die kwalifiserende span kry individueel erkenning daarvoor. Baie geluk aan die eerste nege spanne hieronder wat die toekenning verwerf gebaseer op die nasionale Intertak Spanskietkompetisie van 2019 se resultate hieronder. Op streekvlak het ook nege spanne vir die Wildehonde toekenning gekwalifiseer. Die reëlings i.v.m. die toekenning op streek en nasionale vlak sal met die skuts gekommunikeer word gedurende Oktober 2018.
Borge:
Baie dankie aan ons hoofborg, Safari & Outdoor vir ‘n baie groot borgskap! Die oorspronklike ooreenkoms deur Safari & Outdoor met SA Jagters was geskenkbewyse ter waarde van R50 000, maar op die dag het hulle die vyf Leupold teleskope en vyf GSR geweerkolwe ter waarde van R125 000 bygevoeg vir ‘n totale waarde van R175 000.

KAMPIOENE – Genl de la Rey Molon Labe: Thys Goosen, Riaan Kriel, Michelle Laing, Jan Haasbroek en Walter Laing

TWEEDE – Schweizer Laksmanne: Carl Arnold (President), Johan Coetzee, Jaco van Zyl, Jacques Moolman, Abraham Oosthuizen en Tielman Nieuwoudt

DERDE – Diamant Blou klippies: Carl Arnold (President), Karien Lubbe, Johannes Lubbe, Herman Steyn, Arnold Smit en Hendrik Breedt
Filename | Size |
---|---|
![]() | 12.03 KB |