Beste SA Jagters-lede
Die vars oggendbries is kenmerkend van die jagseisoen. Aan diegene wie se biltong reeds hang, wel gedaan. Vir die res wat nog nie vanjaar gejag het nie en verlangend na die buurman se biltongrak kyk, vasbyt!
Jag gaan gepaard met groot verantwoordelikhede en ‘n deeglike kennis van die wetlike vereistes. Hierdie wetgewing kan ingewikkeld wees. SA Jagters het die belangrikste aspekte van jagwetgewing opgesom om dit vir lede makliker te maak. Die volledige dokumente is hier beskikbaar.
Lede wat die geleentheid kry om oorkant ons grense te gaan jag en beplan om die vleis huis toe te bring vanaf Namibië, Botswana, Swaziland en Lesotho, sal baat vind by Vanessa Bell se nuusbrief oor die nodige permitte. Voltooi die aansoekvorm vir die vleisinvoerpermit en lees ook die riglyne vir tuisgebruik.
Dit het onder ons aandag gekom dat sommige jagters ‘n paar verrassings by grensposte ervaar het. Moet liefs geen vleis, vet of suiwelprodukte oor die grens neem nie. Sommige grensposte konfiskeer dit weens bek-en-klouseer wat onlangs in Suid Afrika uitgebreek het. Daar was ook ‘n geval waar ‘n jagter voorgekeer is omdat die staatsveearts sy vleisinvoerpermit met ‘n blou pen, in plaas van ‘n swart pen, voltooi het. Die Departement van Landbou het bevestig dat blou ink op die permit aanvaarbaar is, maar om enige probleme te voorkom, raai ons aan dat die vorm met ‘n swart pen voltooi word. Onthou om voldoende afskrifte van al die vereiste dokumente saam te neem omdat die grensposte hierdie dokumente hou en geen fasiliteite het om afskrifte te maak nie.
Indien jy jou vuurwapen oor die grens wil neem, doen minstens 21 dae voor jou vertrek aansoek vir ‘n tydelike uitvoerpermit by jou plaaslike polisiestasie. Ons raai aan dat dit selfs vroeër gedoen word om enige ongerief of vertragings te vermy wat dalk jou planne in die wiele kan ry. Vir jou gerief, verskaf ons die aansoekvorm.
Geniet die jag
Groetnis
Boetie Kirchner