SA Jagters se 2018 Kongres het die afgelope naweek plaasgevind en ek is dankbaar om te rapporteer dat alles redelik goed verloop het.
Gelukwense en Dankie
Baie geluk aan Carl Arnold en Richard Sowry wat onderskeidelik verkies is as President en VP Bewaring en ook aan André van Heerden wat herkies is as VP Skietsake. Baie dankie dat julle bereid is om julle tyd en aandag beskikbaar te stel vir SA Jagters.
Terselfdertyd, baie dankie aan Gerhard Verdoorn wat na 14 jaar uitgetree het, aanvanklik as lid van die Uitvoerende Komitee en later die Raad van SA Jagters. Gerhard, ons waardeer die bydrae wat jy gelewer het opreg. Baie dankie ook aan Brian Reilly wat na ses jaar as VP Bewaring uitgetree het. Ons waardeer die bydrae wat jy ook in hierdie hoedanigheid gelewer het
Laastens aan al die afgevaardigdes na die Kongres, baie dankie dat u die tyd afgestaan het en die moeite gedoen het om die Kongres by te woon en vir die wyse waarop u die soms moeilike besluite geneem het. Die span by die kantoor van SA Jagters waardeer dit opreg.
Baie geluk ook aan al die ontvangers van al die toekennings. Dit is welverdiend.
Fondsinsameling Teenstroping
Ons gasspreker Vrydagaand by die jaarlikse dinee van SA Jagters was genl. Johan Jooste wat inligting met ons gedeel het oor die teenstropingswerk wat SANParke moet doen in die poging om veral renosterstropery te verminder. Ons is meegedeel dat die Krugerwildtuin reeds bykans die helfte van hulle renosterbevolking deur stropery kwyt is.
By hierdie geleentheid het ons met die ondersteuning van Jan Lubbe van die wapenwinkel Sons of Guns en Johannes Coertze van Formalito `n CZ .375 H+H as donasie gekry wat ons volgende jaar sal uitloot om geld bymekaar te maak ten bate van SANParke se teenstropingsaktiwiteite. Wees dus op die uitkyk vir `n geleentheid volgende jaar om teen `n relatiewe klein bedrag die kans te kry om hierdie geweer in `n gelukkige trekking ten wen.
Ledetal en Toegewyde Status
Op 31 Oktober 2018, staan die ledetal van SA Jagters op 42 801 nadat alle lede wie se ledegeld nie tot op datum betaal was nie, se name van die lys van aktiewe lede verwyder is. Dit is `n effense vermindering op die 43 000 lede aan die einde van September 2018.
Onthou dat elke lid van SA Jagters wat 10 lede in `n gegewe jaar vir SA Jagters werf die volgende jaar gratis lidmaatskap ontvang. Takke wat lede werf kry ook erkenning met `n gedeelte van die ledegeld, bo en behalwe die tak-subsidie wat na die Tak deurgegee word.
Teen die einde Oktober 2018, het 15 263 van ons toegewyde jagters reeds voldoen aan die vereistes om die status te behou, terwyl 2 002 van hierdie lede verdere aktiwiteite moet registreer. Hierdie lede sal binnekort `n SMS kry om óf aktiwiteite terugwerkend te registreer óf `n “geen aktiwiteit” verslag in te dien.
9 098 toegewyde sportskuts voldoen reeds aan die vereistes om die status te behou, terwyl 1721 lede hulle aktiwiteite terugwerkend moet registreer of `n “geen aktiwiteit” verslag moet indien. Ook hierdie lede sal in die loop van die week `n SMS in die verband ontvang.
Dit gebeur dat sommige lede wat beide toegewyde jagter- en toegewyde sportskutstatus het, vergeet om beide statusse in stand te hou. Maak dus seker dat u aan beide statusse se vereistes voldoen.
Gedurende die afgelope vier maande het SA Jagters reeds 4 478 endossemente aan lede uitgereik. Ons handhaaf gemiddeld 1 200 endossemente per maand.
Sportskietnuus
Skietkompetisies
Die Vrystaat Sandveld-tak het op 18 Augustus 2018 die Nasionale Intertak Spanskietkompetisie aangebied. Sien die uitslae van die kompetisie hier.
Die nasionale Presidentskietkompetisie is op 15 September 2018 deur die Valschrivier-tak aangebied. Die uitslae is hier beskikbaar.
Riemland-tak het op 13 Oktober 2018, die Gallery Sporting Rifle proewe aangebied. Die uitslae van die proewe is hier beskikbaar.
Duiker tak het op 20 Oktober 2018 die Intertak Ghongskietkompetisie aangebied. Die uitslae van hierdie kompetisie is hier beskikbaar.
Die IGRF (International Gallery Rifle Federation) se nasionale kampioenskap en SA Jagters se Sportskietkampioenskap is deur Sandrivier 58-takaangebied. Die uitslae van hierdie kompetisies was soos volg:
IGRF – SA Ope Kampioenskap Gallery Rifle Small Bore (Kleingeweer)
Wenner van die Ope Klas: Lidnr. 035461 – Flippie van Tonder
Wenner van die Dames Klas: Lidnr. 035460 – Annemarie van Tonder
Wenner van die Junior Klas: (O/25) Lidnr. 053028 – Nico Roets
IGRF – SA Ope Kampioenskap Gallery Rifle Senterslag
Wenner van die Ope Klas: Lidnr. 011991 – Deon de Villiers
Wenner van die Dames Klas: Lidnr. 035460 – Annemarie van Tonder
Hercules Louw, lidnr. 012254 was die algehele wenner van die SA Jagters Sportskietkampioenskap.
Lede wat aan die 2019 IGRF Gallery Sporting Rifle en Sportskietaktiwiteite wil deelneem, moet nou al registreer. Kry die registrasievorm hier.
Handaflewering van die SA Jagter
Ons het voorheen berig dat die SA Jagter-tydskrif per hand by u woonadres afgelewer kan word. Hierdie aflewering is baie meer betroubaar as die poskantoor se aflewerings. Om dit te kan doen moet u straatadres korrek op ons stelsel wees. Indien u die SA Jagter per hand afgelewer wil hê, maak seker dat u woonadres korrek is op die lede-administrasiestelsel en stuur dan `n e-pos aan admin@sahunt.co.za
Jagsake
Lede is reeds bekend met die opleiding vir die jag van gevaarlike wild wat ons in samewerking met die Wildlife College aanbied. Die opleidingsdatums vir 2019 is pas bekendgestel. Hierdie opleiding fokus op die jag van olifant, buffel, leeu hiëna en luiperd. Slegs ses (6) inskrywings per kursus word toegelaat. Lede kan vooraf groepe saamstel om die opleiding te doen. Meer inligting is hier beskikbaar.
Bewaring
Die Departement Omgewingsake het twee nuwe beleidsdokumente vir kommentaar in die staatskoerant gepubliseer. Enigeen mag kommentaar lewer.
Die Minister van Omgewingsake het die Konsep Nasionale Biodiversiteitsraamwerk ingevolge die Wet op die Bestuur van Nasionale Omgewingsbiodiversiteit, 2004 (Wet 10 van 2004) vir openbare kommentaar gepubliseer. Die doel van hierdie raamwerk is om pogings van organisasies en individue wat gemoeid is met bewaring en die bestuur van Suid-Afrika se biodiversiteit te koördineer tot voordeel van volhoubare benutting. Die doelwit van die biodiversiteitsraamwerk is om:
- oorsiening te maak vir `n geïntegreerde, gekoördineerde en konsekwente benadering tot biodiversiteitsbestuur;
- bewaringsprioriteite te identifiseer en beskermde gebiede te vestig; en
- samewerking in biodiversiteitsbestuur op streekvlak in suidelike Afrika te bewerkstellig.
Die rol van die private sektor, nie-regeringsorganisasies en gemeenskappe is uiters belangrik omdat die private sektor en gemeenskappe meer as dubbel die wildlewe-gebiede bestuur as wat amptelik as beskermde gebiede geproklameer is. `n Gedeelte van laasgenoemde val reeds onder die beskerming van die private sektor en gemeenskappe.
Lede kan hulle kommentaar teen 15 November 2018, na die Bestuurder Bewaring van SA Jagters stuur by Lizanne@sahunt.co.za of kommentaar teen 25 November 2018, direk stuur aan die Minister van Omgewingsake by pkershaw@environment.gov.za of faks na 0865411102/012 399 9585. Laai `n elektroniese weergawe van die konsepdokument af by https://www.environment.gov.za/documents/strategicdocuments of by SA Jagters hier.
Die waarnemende Minister van Omgewingsake het ook die voorgestelde hersiene Norme en Standaarde vir die Bestuur van Olifante vir kommentaar in Staatskoerant Nr. 42015 (Kennisgewing Nr.1208) gepubliseer. Kry `n kopie daarvan hier.
Die oorspronklike norme en standaarde vir die bestuur van olifante is aanvanklik op 1 Mei 2008 gepubliseer om te verseker dat olifante oorleef en sal voortbestaan in hulle natuurlike omgewing; en om biodiversiteits- en sosio-ekonomiese doelwitte te bevorder wat ekonomies en ekologies volhoubaar is. Hierdie doelwitte geld vir beide beskermde gebiede en private grond.
Die departement van Omgewingsake het probeer om die uitdagings vir die bestuur van vrylopende/wilde olifante binne die bestaande norme en standaarde te hanteer. Die hersiene norme en standaarde skep meer ruimte vir die bestuur van olifantbevolkings op private en staatsgrond, en behou die riglyne en beginsels vervat in die bestaande norme en standaarde.
Ander aspekte wat aandag kry, sluit in nie-indringende maatreëls vir die bestuur van olifante wat uit bewaringsgebiede ontsnap het of wat vrylopend is, en die bestuur van olifantgetalle deur middel van o.a. geboortebeperkingsmiddels.
Lede kan kommentaar stuur aan Lizanne Nel, Bestuurder bewaring by Lizanne@sahunt.co.za teen 25 November vir insluiting in die Vereniging se kommentaar. Lede kan hulle bydrae direk aan die minister stuur by elephantnorms@environment.gov.za teen 2 Desember 2018. Rig navrae aan mnr. Khuthadzo Mahamba by 012 399 8845.
Fotokompetisie
Ons fotokompetisie vir 2018 is afgesluit. Willem Kok se `Hammerkop teen sons-onder’ is as die foto van die jaar aangewys en hy het die geborgde Canon-kamera gewen wat tydens die kongresdinee aan hom oorhandig is. Baie geluk aan Willem en baie dankie aan Canon SA vir die prys.
Tiaan van Eeden se `My jagmaat’ foto is gekies as wenner in die Jagstories kategorie. Riaan Heine, Wikus Pienaar, Gerrit Beylefeld, Carel Havinga en CM Bester se foto’s het goue toekenning verwerf.Gaan kyk gerus hier na die foto’s. Baie dankie aan diegene wat foto’s ingeskryf het. Volgende jaar maak ons weer so.
Beskikbaarheid van S 365 en S 335 Kruit
Weens die ontploffing by Rheinmetall Denel in Somerset Wes is kruit vir herlaai nie vryelik beskikbaar nie. Daar is `n beperkte voorraad in Potchefstroom beskikbaar aan handelaars wat reeds vooraf bestel het. Die ondersoek na die ongeluk vroeg in September is steeds nie afgehandel nie en geen produksie sal plaasvind voordat die ondersoek gefinaliseer is nie. Die eerste produksie van hierdie kruit sal waarskynlik eers in 2019 plaasvind.
As u nie u voorkeur kruit kan bekom nie, probeer intussen alternatiewe produkte.
Vakante Pos: Adjunkredakteur SA Jagter
Ons vennote in SA Hunt Publishing het versoek dat ons die vakante pos vir `n Adjunkredakteur vir die SA Jagter aan lede bekendstel. Die inligting oor die pos is hier beskikbaar. Sou u dalk belangstel in die pos, doen gerus aansoek voor 7 Desember 2018.
Vuurwapenlisensies: Konsepwysigingswet
Dr Pieter Groenewald van die VF Plus het `n konsep wysigingswet voorgestel om wysigings aan te bring aan artikels 24, 28, 106 en 107 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens. Die Portefeuljekomitee op Polisie het die konsepwet op 6 November bespreek. Sou hierdie wysiging aan die Wet deurgevoer word, sal dit `n welkome oplossing bied vir die probleem wat mense ondervind wie se lisensies verval het.
Die voorgestelde wysigings aan Artikels 24, 28, 106 en 107 van die Wet is baie sinvol geformuleer en sal beslis `n uitweg bied vir die behoorlike bestuur van wapens waarvan die lisensies verval het. `n Kopie van die konsep wysigingswet is hier beskikbaar.
`n Splinternuwe WhatsApp van `n persverklaring van GOSA doen die ronde. Dit beweer dat die Hooggeregshof beslis het dat u kan aansoek doen vir die hernuwing van `n lisensie wat verval het. Wees asseblief baie versigtig hiervoor. Dit is verseker nie so eenvoudig nie. Die interdik wat GOSA gekry het, verbied die Polisie om die eienaars wie se vuurwapenlisensies verval het, te dwing om vuurwapens in te handig. Die interdik sal slegs geldig wees tot op die datum wanneer GOSA se hofaansoek aangehoor word. Die Hof het geen beslissing gemaak oor die hernuwing van lisensies wat verval het nie.
Hernuwing van Bevoegdheid
Ons herinner lede om bevoegdheidsertifikate gereeld na te gaan. Onthou dat u bevoegdheid verval saam met die laaste lisensie van die betrokke tipe wapen. Indien u `n handwapen het wat ingevolge Art 13 vir selfverdediging gelisensieer is, is die lisensie geldig vir 5 jaar. Wanneer die laaste lisensie van die handwapens verval dan verval u bevoegdheid vir handwapens ook (behalwe as u `n handwapen het wat ingevolge Art 16 gelisensieer is wat dan geldig is vir 10 jaar).
Maak seker u weet wanneer u bevoegdheid verval en doen betyds aansoek om die bevoegdheid te hernu. Indien daar kans kom om die wapens waarvan die lisensie verval het te herlisensieer en u bevoegdheid is nie op datum nie, gaan dit u niks help nie.
Buffeljag-geleentheid
Die International Wildlife Fellowship Foundation bied `n kompetisie aan waarin `n kaartjie van R50 deelnemers die kans gee om `n sewe-dag buffeljag ter waarde van sowat R340 000 in die Lebombo Game Management gebied in Mosambiek te wen. Kyk hier vir meer inligting. Dit is `n kans van `n leeftyd om `n buffel te jag in een van die redelik ongerepte dele van Afrika.
Leesstof
Dit gebeur soms dat `n mens op die mees onverwagse plekke iets interessants raakloop. Tydens `n onlangse besoek aan die Natalse Middeland het ek op `n klein plekke net buite Howick afgekom op `n kopie van die boek Macpherson’s Elephant geskryf deur Edward Ostrosky.
Alhoewel die boek `n novelle is, is dit gebaseer op sy ervaring as die stigter wildbewaarder van Tembe Olifantpark in die Noorde van Kwazulu-Natal. Die boek lees lekker en is moeilik om neer te sit.
Ed verkoop die boek teen R299 per kopie en hy sal die posgeld vir lede van SA Jagters in hierdie prys insluit. As u een van die boeke wil bestel, lees meer daaroor hier. Wanneer u bestel, bevestig dat u `n lid is van SA Jagters en stuur u lidnommer saam sodat u nie posgeld hoef te betaal nie.
Een van ons lede, Fanus Venter, woon in die Suid-Kaap en is ook lid by Grysbok-tak. Fanus het `n boekie geskryf Wat maak `n Jaggeweer Akkuraat. Die boek lees lekker en beskryf stap-vir-stap in leketaal elkeen van die faktore wat `n rol speel by die akkuraatheid van `n jaggeweer. Die gewone prys vir die boek is R250, maar Fanus verkoop die boek tot einde Desember 2018 aan lede SA Jagters teen R230, posgeld ingesluit. Bestel dit direk van Fanus by jaggeweerakkuraat@gmail.com Stuur u lidnommer saam met die bestelling om vir gratis posaflewering te kwalifiseer.
Enigeen van die bostaande twee boeke is `n goeie Kersgeskenk vir jagters.
Geskiedenis van SA Jagters
SA Jagters word in 2019 70 jaar oud. Ons het reeds redelik ver gevorder met die insameling van inligting vir die gedenkboek. Ongeveer twee weke gelede het een van ons lede `n klompie dokumente uit sy oorlede vader se versameling vir ons gebring. Een van die interessante dokumente was die finansiële state van 1968 toe die totale inkomste van die Vereniging R300 vir die jaar was. Ledegeld was destyds R6 per jaar en lede het toe al gekla dat dit te veel is.
Stuur asseblief enige interessante inligting waaroor u beskik na prof. Potgieter by pieter.potgieter@safricom.co.za
Kommersiële sake
Soos gebruiklik, sluit ons skakels in na ons webwerf vir meer inligting oor spesiale aanbiedings vir SA Jagters se lede. Kliek op die skakel waarin u belangstel.
Die volgende leweransiers bied spesiale voordele aan lede van SA Jagters.
- Toyota SA
- Westvaal Nelspruit
- Hinterland Groep
- Wildman Hunting and Outdoor
- Hokaai Slaghuis
- Die Wildshoekie Vleismark
- LAVA Vakuumverpakking
- Selftrack
- MAINSU Kragopwekkers
- Heartech Gehoorbeskerming
- Herlaaikursusse deur Cassie Nienaber
- Uitlaatstelle van De Graaf Autosentrum in Van der Hoffweg Pretoria
- Helle-messe
Kliek hier vir meer inligting oor enige van die bogenoemde voordele.
Ivoorprojek
Die ivoormes-projek is weer goed op dreef nadat ons effe agter geraak het met bestellings en aflewerings. Die projek behels die maak van messe met hewwe uit ivoor afkomstig van olifante wat Nico van Rooyen gejag het. Plaas gerus u bestellings so gou moontlik om teleurstellings te voorkom aangesien slegs 150 messe in hierdie projek gemaak word. Daar is reeds 64 bestellings.
Belangstellendes kan R5 500 in die bankrekening van SA Jagters betaal. Die rekening is by ABSA en die rekeningnommer is 01443990077; en die takkode is 632005. Gebruik asseblief die verwysing Mes en u selfoonnommer. Stuur ook die betalingsbewys aan admin@sahunt.co.za
Navrae aan SA Jagters se Nasionale Kantoor
Dit gebeur gereeld dat enkele van die bestuurders algemene navrae ontvang en nie noodwendig die betrokke lid se navraag kan beantwoord nie. Vir spoedige diens, maak seker dat u navrae na die regte afdeling verwys. Hou asseblief u lidnommer byderhand omdat dit dikwels baie makliker maak om navrae te beantwoord.
Die kontaknommers en e-posadresse vir navrae is soos volg:
• Lidmaatskap, administrasie en finansies
Tel (012) 808 9300 vra vir Finansies: e-posadres: admin@sahunt.co.za
• Opleiding
Tel (012) 808 9300 vra vir Opleiding; e-posadres: nic@sahunt.co.za
• Vuurwapenhulplyn, endossemente, motiverings en lisensie-aansoeke
Tel (012) 808 9300 vra vir Vuurwapenhulplyn; e-posadres: firearmsupport@sahunt.co.za
• Toegewyde status en registrasie van aktiwiteite
Tel (012) 808 9300 vra vir Toegewyde Status; e-posadres: dedicated@sahunt.co.za
• Bewaringsaangeleenthede
Tel (012) 808 9300 vra vir Bewaring; e-posadres: vanessa@sahunt.co.za
• Takaangeleenthede en verwante sake
Tel (012) 808 9300 vra vir Takaangeleenthede; e-posadres: andrevdm@sahunt.co.za
• Skietsake en verwante aangeleenthede
Tel (012) 8089300 vra vir Skietsake; e-posadres: andrevdm@sahunt.co.za
• Aanlynstelsels, webwerf, tablette
Tel (012) 8089300 of e-posadres: johanvo@sahunt.co.za
• Enige algemene of ander navrae
Tel (012) 8089300 of e-posadres: info@sahunt.co.za
Vriendelike groete
Fred Camphor
SA Jagters: HUB