Amptelik is die jagseisoen nou iets van die verlede. So hier en daar is daar nog van ons lede wat op plase met vrystelling `n laaste geleentheid gaan inpas maar dit word nou te warm en op meeste plekke is die vroulike diere ook al dragtig.
Ek was die afgelope week in die Wes-Kaap en ten spyte van die feit dat dit nog lekker koud was merk ek dat die wingerde reeds sterk begin bot. Lente is in die lug.
1. Buffeljagkompetisie
Die trekking vir die buffeljag is gedoen en Boendoes Erasmus van Bloemfontein is die gelukkige wenner. Hy is reeds in kennis gestel en het begin reëlings tref om sy buffel te gaan jag. Ons hoop Boendoes sal vir ons `n storie skryf oor hierdie gelukkige jaggeleentheid wat hy gekry het.
Die Diamant is gewen deur Jacques de Kock van Centurion. Jacques het reeds sy diamant kom haal.
Baie dankie aan die borge van hierdie twee pryse. Ons waardeer julle bydrae en julle oop hande en harte vir SA Jagters opreg.
2. Tiervisvang
Die trekking vir die tiervisvang geleentheid is ook gedoen en Stoffel Cronje van Heidelberg is die gelukkige wenner wat in die Komatirivier gaan vis vang. Mag die grotes byt!
3. HuntEx
HuntEx2020 vind volgende jaar van 24 tot 27 April 2020 plaas. Tref betyds reëlings om hierdie skou te besoek.
4. Gedenkboek
SA Jagters vier vanjaar sy 70ste bestaansjaar. Lede weet teen hierdie tyd van die gedenkboek wat ons vanjaar uitgee wat die ontstaan en geskiedenis van die Vereniging boekstaaf. Die boek is ook vol feite, vertellings, foto’s en interessanthede uit `n vergange era. Dit is beslis `n boek wat `n waardige plek op enige lid se koffietafel of boekrak kan inneem. Herman Jonker die redakteur van die publikasie het aangedui dat dit naastenby teen 2 November gereed behoort te wees wanneer ons Kongres ook plaasvind.
Die boek sal beskikbaar wees in A4 formaat met baie foto’s en inligting oor die geskiedenis van die Vereniging. Twee weergawes sal beskikbaar wees: een met `n gewone omslag teen R 300,00 per boek; en `n tweede meer luukse weergawe met `n buffelleer omslag. Slegs 100 van die buffelleer-eksemplare teen R1000 elk sal beskikbaar wees. Lede wat een van die luukse boeke wil hê kan solank bestel om seker te maak dat hulle van die 100 eksemplare kry.
Gaan kyk hier vir `n voorsmakie van die boek se Voorwoord en Bladsye
Vir bestellings, doen die volgende:
1. Plaas die korrekte bedrag (R 300 vir die gewone boek of R 1 000 vir die leergebinde weergawe) elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by ABSA en die rekeningnommer is 01443990077.
2. Gebruik net u Lidnommer en Boek as verwysing. Maak asseblief baie seker dat u lidnommer korrek is anders kan ons nie die bestelling uitvoer nie.
5. Bewaring
CITES CoP18
Die Convention of Parties (ook bekend as CoP18) is onlangs in Geneve, Switserland gehou. Dit is baie duidelik dat die lande in suidelike Afrika begin standpunt inneem teen die feit dat lande in die res van die wêreld op emosionele basis besluite neem wat die volhoubare gebruik van Afrika se hulpbronne inperk. Diereregtegroepe het al vir geruime tyd te veel invloed op die besluite wat geneem word sonder enige begrip van die impak van wildlewe op die armste Afrikane en hulle alledaagse bestaan.
Van die belangrikste besluite wat lande in suidelike Afrika en spesifiek Suid-Afrika raak, is die volgende:
- Kameelperde is nou op Skedule II gelys wat beteken dat geen internasionale handel van beide lewendige diere of trofeë sonder `n CITES permit toegelaat sal word nie.
- Daar was geen wysiging ten opsigte van witrenoster nie en dus is die internasionale handel van enige produkte steeds verbode.
- Wat swartrenoster betref, het Suid-Afrika daarin geslaag om met goeie wetenskaplike data die kwota vir uitvoer van jagtrofeë te kon verhoog na hoogstens 5% van die populasie.
- Olifante in Suid-Afrika bly op Skedule II en beperkte internasionale handel word toegelaat met CITES permitte.
‘n Meer volledige verslag oor die CITES-besluit en die impak op suidelike Afrika is hier op ons webwerf beskikbaar.
Hofuitspraak oor kwota vir uitvoer van leeubene
`n Onlangse uitspraak in die Hooggeregshof het `n belangrike wending gebring aan die uitvoerkwota vir leeubene wat die afgelope twee jaar toegestaan is. Die Hof het bevind dat die bepaling van die kwota onwettig was. Hierdie uitspraak sal geen verskil maak aan leeubene wat die afgelope twee jaar reeds uitgevoer is nie maar dit sal die proses ingrypend verander om die kwota vir die uitvoer van leeubene in die toekoms te bepaal. Lees meer hier.
Wildspesies gelys onder Diereverbeteringswet
In verlede maand se nuusbrief is melding gemaak van `n hele lys wildspesies wat in Tabel 7 van die regulasies van die Diereverbeteringswet 1998 (Wet 62 van 1998) as landrasse gevoeg is.
Volgens `n regsmening wat ons ingewin het, is die proses vir die insluiting van hierdie spesies as landrasse verkeerd toegepas. Die Wet op Diereverbetering maak voorsiening vir die lys van rasse (byvoorbeeld Afrikaner, Fries, Nguni) in Tabel 7 maar nie vir spesies (beeste) nie. Die insluit van al die onderskeie spesies wild maak dit nie `n wettige proses nie.
SA Jagters sal hierdie saak verder met die Minister van Landbou bespreek om die foute te probeer regstel. Ons sal lede ingelig hou soos die proses verloop.
Kyk ook gerus na SA Jagters se Facebook blad oor bewaringsake SA Hunters Conservation vir meer inligting oor hierdie onderwerp.
6. Jagsake
Trofeemeet
Die Raad het ingestem dat ons junior trofeemeters mag oplei. Junior meters sal die geleentheid kry om op takvlak onder die direkte toesig van `n senior trofeemeter te mag meet en sodoende ondervinding opdoen om wanneer hulle 18 jaar oud is as senior meters te registreer. Die eerste 5 junior meters het verlede naweek opleiding by Springbok-tak ontvang.
SA Jagters ken jaarliks trofeë (bekers en sertifikate) toe vir die evaluering van trofees (horings, tande en skedels) wat op takvlak gemeet word en wat die minimum van die betrokke spesies se afmetings of gewig soos aangedui in die SAJWV se Trofeeregister ewenaar of oorskry. Dit is trofees van diere wat tussen 1 September die vorige jaar en 31 Augustus van die betrokke jaar gejag is en wat deur `n amptelike SA Jagters trofeemeter gemeet en geregistreer word. Lede wat die voorreg gehad het om `n besonderse dier te kon jag, en dit in die Trofeeregister wil laat aanteken, kan navraag doen by hul takbestuur.
Nog `n buffeljagkompetisie vir R50
Die IWFF het soortgelyk as SA Jagters `n buffeljag in die Sabie Game Park gekry en nooi ook ons lede om vir slegs R50 in te skryf om die geleentheid te kry om hierdie jag te wen. Daar is ook baie ander pryse om te wen. Sien meer inligting oor die jaggeleentheid hier. Die sluitingsdatum vir hierdie trekking is uitgestel na 15 September 2019.
Om deel te neem en `n kaartjie te koop:
1. Plaas R50 of veelvoude van R50 (wat u meervoudige kanse sal gee) elektronies oor na die bankrekening van IWFF. Die rekening word gehou by FNB en die rekeningnommer is 62750708201.
2. Gebruik u selfoonnommer verwysing.
Varkpermitte
Lede van SA Jagters het sover vanjaar reeds 808 permitte vir die vervoer van vleis en karkasse van wildevarke op ons elektroniese stelsel uitgereik. Baie dankie aan die lede wat wel hul plase geregistreer het en gebruik maak van ons stelsel om hierdie permitte uit te reik.
7. Skietsake
Die Intertak Spanskiet is verby en is gewen deur die Molon Labe span van Genl. De La Rey-tak. Baie geluk aan die vier mans en een dame van hierdie span. Julle is waardige wenners van die kompetisie. Nege spanne het tydens hierdie kompetisie vir die Wildehonde-toekenning gekwalifiseer. Dit is duidelik dat die skietvernuf van SA Jagters se skuts baie verbeter het.
Die Nasionale Presidentskiet vind op 14 September op die Meerkatgat-skietbaan te Soutpan in die Vrystaat plaas.
Die Nasionale Sportskietkampioenskap word op 25 en 26 Oktober op die Excalibur-skietbaan in Welkom aangebied.
SA Jagters bied van 28 tot 31 Oktober 2019 die International Gallery Rifle Federation se Wêreldkampioenskap op die Excalibur-skietbaan in Welkom aan. Sterkte aan die skuts wat gaan deelneem en nie net SA Jagters nie maar ook Suid-Afrika verteenwoordig.
8. Handaflewering van die SA Jagter
Ons het voorheen berig dat die SA Jagter-tydskrif per hand by u woonadres afgelewer kan word. Hierdie aflewering is baie meer betroubaar as die Poskantoor. Om te verseker dat u die tydskrif ontvang, kyk of u woonadres korrek is op die lede-administrasiestelsel en stuur dan `n e-pos na admin@sahunt.co.za
Indien u enige probleme ervaar met die handaflewering van u tydskrifte stuur `n e-pos na admin@sahunt.co.za en verduidelik wat die probleem is.
9. Die Sewentigste herdenking van SA Jagters
Die onderskeie projekte wat verband hou met die sewentigste verjaardag van SA Jagters is reeds beskryf.
Juwele
Daar is nog enkele juweelstukke beskikbaar in die reeks juweliersware wat Maryna de Klerk van M2 Juweliersware vervaardig het. Elke stuk is gemerk met `n nommer en prys.
Gaan kyk hier vir foto’s van die juwele.
Enigeen wat van hierdie ivoorjuwele wil koop afkomstig uit die ivoor van Nico van Rooyen, kan Realda Goosen by (012) 808 9300 skakel. Hou die nommer van die stuk of stukke waarin u belangstel byderhand. Die persone wat eerste bestel en betaal, sal die juwele kry.
Hou in gedagte dat die items per versekerde pakket met `n koerier versend word en dus verdere koste meebring. Betaal deposito’s elektronies oor met die verwysingsnommer van die juwele en u naam as verwysings. Na ontvangs van die deposito sal die juwele versend word.
Messe
Daar is lewendige belangstelling in die beperkte reeks van 500 messe wat teen R 1 000 elk beskikbaar. Dit is Buck-knipmesse met ivoorinlegsels op die hef en SA Jagters se logo op die hef graveer. Plaas die R1 000 elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters by ABSA, rekeningnommer 01443990077. Gebruik u lidnommer en Knipmes as verwysing. Stuur die betalingsbewys saam met u lidnommer en kontakbesonderhede aan Realda Goosen by realda@sahunt.co.za
Gewere
SA Jagters se Raad het besluit om twee gewere in klassieke kalibers (7 X 57 en 9,3 X 62) te laat bou ter viering van die sewentigste verjaardag. Ralph Badenhorst Jnr. Maak hierdie gewere wat lede in `n gelukkige prystrekking kan wen.
Foto’s van die twee gewere is hier te sien.
Vir `n kans om een van die gewere te wen:
1. Plaas R50 of veelvoude van R50 (wat u meervoudige kanse sal gee) elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by Absa en die rekeningnommer is 01443990077.
2. Gebruik u eie selfoonnommer en 7X57 of 93X62 (afhangend vir watter een van die gewere u wil in aanmerking kom) as verwysing.
Maak seker dat u die kaliber van die geweer byvoeg by u selfoonnommer as verwysing wanneer u die oorplasing doen. Inskrywings vir hierdie trekking sluit op 31 Oktober 2019. SA Jagters sal u selfoonnommer gebruik om die trekking van die gelukkige wenner van hierdie gewere te doen.
10. Lidmaatskap
Die ledetal van SA Jagters bly konstant op 42 348 opbetaalde lede teen 30 Augustus 2019.
Werf lede vir kommissie
Die Raad het besluit dat elke lid of tak wat 10 of meer lede per jaar vir SA Jagters werf, kommissie van tussen R 100 tot R150 per lid sal ontvang. Meer inligting is hier beskikbaar.
Die Raad het ook besluit om `n aantal kommissie agente aan te stel om lede te werf. Lede wat weet van iemand wat nie `n lid is van SA Jagters nie, wat gereeld reis en mag belangstel om lede vir SA Jagters te werf teen kommissie,kan hulle besonderhede soos kontaknommers, fisiese adres, die gebiede waar hy/sy gereeld reis en by welke geleenthede hy/sy lede sou kon werf, stuur na fredc@sahunt.co.za
11. Addisionele funksionaliteit op lede-administrasiestelsel
Lede kan nou inligting oor hulle bevoegdheidsertifikate (bv. om `n vuurwapen te besit) op hulle aanlynprofiel voeg om `n sms en `n e-pos te ontvang wat hulle herinner om dit te hernu. Lede kan een van elke tipe bevoegdheidsertifikate by hul profiel voeg, asook of hulle sake bedryf as `n geweersmid of `n wapenhandelaar.
Lede kan ook inligting oor kruisboë en saamgestelde boë vir jagdoeleindes by hul profiele voeg. `n Funksionaliteit is nou by die profielopsies beskikbaar om die tipe ammunisie wat lede gebruik by te voeg. Vir eers kan lede inligting oplaai oor die tipe ammunisie wat hulle vir jag en sportskietaktiwiteite gebruik, maar hierdie funksie sal later voorsiening maak vir `n volledige jagverslag sodat die Vereniging waardevolle data kan insamel oor die gebruik van lood vs monolitiese ammunisie vir jagdoeleindes. Dit sal die Vereniging in staat stel om namens lede vir beter pryse by ammunisiehandelaars te onderhandel.
Om hierdie funksie te gebruik, teken aan op die Member administration bladsy met jou lid nommer en wagwoord. As dit die eerste keer is wat jy aanteken, gebruik die Request new password skakel onder die login blokkie om `n nuwe wagwoord aan te vra.
Om jou bevoegdheidsertifikaat by te voeg, kliek op Dedicated Status & Competency wat links op die menu vertoon nadat jy ingeteken het. Kliek dan op Competency certificates vir die opsie om `n sertifikaat by te voeg. On vuurwapens, ander wapens of ammunisie op jou profiel te voeg, kliek op Arms, Ammo, Licences & Endorsement wat ook links op die menu verskyn. Sodra die vuurwapens, ander wapens of ammunisie by die profiel gevoeg is, sal nuwe opsies sigbaar word om jag of skietaktiwiteite by jou profiel te voeg. (sien Hunting & Shooting Activity Log’ links op die menu.)
12. Toegewyde Status
Vir lede met toegewyde status (beide jag en sportskiet) is daar slegs twee maande oor om aktiwiteite vir die jaar op die aanlyn lede-administrasiestelsel te registreer en hulle status te behou. Die behoud van u vuurwapens kan afhanklik raak van hierdie status.
Uit die 16 391 toegewyde jagters het slegs 10 020 reeds genoegsame aktiwiteite registreer om die status te behou.
Uit die 12 295 toegewyde sportskuts het slegs 5 924 lede genoegsame aktiwiteite geregistreer om die status te behou.
250 lede met toegewyde status se ledegeld het verval het en sal dus hulle status verloor. Maak seker dat u ledegeld betyds betaal is om u status te behou.
13. Ivoorprojek
Die Doctari ivoormes-projek is weer goed op dreef nadat ons effe agter geraak het met bestellings en aflewerings. Die projek behels die maak van messe met hewwe uit ivoor afkomstig van olifante wat Nico van Rooyen gejag het. Plaas gerus u bestellings so gou moontlik om teleurstellings te voorkom aangesien slegs 150 messe in hierdie projek gemaak word. Daar is reeds 80 messe verkoop.
Belangstellendes kan R5 500 in die bankrekening van SA Jagters betaal. Die rekening is by Absa en die rekeningnommer is 01443990077; met takkode 632005. Gebruik die verwysing Mes en u selfoonnommer. Stuur ook die betalingsbewys aan admin@sahunt.co.za
14. Vuurwapenlisensies wat verval het
Ons kry gereeld navrae oor vuurwapenlisensies (wit lisensies) wat verval het sonder dat die persoon betyds aansoek gedoen het vir hernuwing van die lisensie. In hierdie geval is daar steeds geen vordering nie. Tegnies is die wapen onwettig in u besit en u kan ongelukkig niks daaraan doen nie. Die Noord Gauteng Hooggeregshof het `n interdik teen die SAPD uitgereik wat hulle verbied om wapens waarvan die lisensies verval het, in besit te neem.
Bere die wapen veilig in u kluis en doen verder niks nie. Ons verwag dat `n amnestie aangekondig sal word maar dit sal waarskynlik eers in 2020 gebeur.
Daar was `n poging van die Minister van Polisie om met `n kortpad `n Amnestie af te kondig. Daar is in laat verlede week `n brief van die Minister aan die Sekretaris van die Parlement publiseer. Ons twyfel of hy dit sal regkry om met hierdie kortpad wel `n amnestie af te kondig wat soos hy voorstel sal strek van Oktober 2019 tot Maart 2020.
15. Hernuwing van Bevoegdheid
Ons herinner lede om bevoegdheidsertifikate gereeld na te gaan. Bevoegdheid verval saam met die laaste lisensie van die betrokke tipe wapen. Indien u `n handwapen het wat ingevolge Art 13 vir selfverdediging gelisensieer is, is die lisensie geldig vir 5 jaar. Wanneer die laaste lisensie van die handwapens verval dan verval u bevoegdheid vir handwapens ook (behalwe as u `n handwapen het wat ingevolge Art 16 gelisensieer is wat dan geldig is vir 10 jaar).
Maak seker u weet wanneer u bevoegdheid verval en doen betyds aansoek om die bevoegdheid te hernu. Indien daar kans kom om die wapens waarvan die lisensie verval het te herlisensieer en u bevoegdheid is nie op datum nie, gaan dit u niks help nie.
16. Opleiding
SA Jagters bied in samewerking met die Wildlife College opleiding aan vir die jag van gevaarlike wild. Slegs lede met Toegewyde Jagterstatus kwalifiseer vir hierdie opleiding. Die kursusfooi beloop R4 000 per persoon (Olifant, Buffel, Leeu, Luiperd, Hiëna)
Die volgende kursusdatums is nou weer beskikbaar.
• 26 – 29 September 2019 (x 2 plekke beskikbaar) (Donderdag tot Sondag)
Rig navrae aan Liesel by 012 808 9325 of liesel@sahunt.co.za. Die volgende inligting word vereis met bespreking en betaling van die kursusfooi:
• Naam en van
• Lidnommer
• Nommer van Toegewyde Jagterstatus
• Telefoonnommer
• Voorkeurdatum vir bespreking
17. Fotokompetisie
Lede word herinner om deel te neem aan SA Jagters se fotokompetisie. Die doel van die kompetisie is om `n portefeulje saam te stel van die beste foto’s wat SA Jagters se lede geneem het sodat ons dit op die webwerf, in aanbiedinge en advertensies by geleenthede soos die jaarlikse kongres se gala-aand kan vertoon.
Aan die einde van elke maand kies ons foto’s om by hierdie portefeulje in te sluit en dit ook op www.cw.co.za te publiseer. Lede sal ook erkenning in die vorm van goue, silwer of brons sertifikate ontvang. Sien Augustus se finaliste hier.
Ons borg (Canon SA) het weer `n nuwe kamera as prys vir die algehele wenner beskikbaar gemaak. Die prys word tydens ons kongres galadinee in November oorhandig. Ons probeer ook om meer pryse vir die verskillende kategoriewenners te kry.
Kategorieë vir 2019 se kompetisie
1. Die Jagter (Nie gejagte diere): Foto’s wat `n jagter – mens of dier – in die natuur uitbeeld.
2. Die Natuur Praat: Foto’s uit die natuur wat met die jou siel praat, bv. merkwaardige agtergronde of kleure.
3. Dierelewe: Foto’s wat enige dierelewe (land, voël of seelewe) uitbeeld.
4. Skiet –`n toegewyde sport: Foto’s wat die aktiwiteit, toewyding, toerusting en voorbereiding van die sportskut uitbeeld.
Lees gerus hier wat u moet doen om in te skryf. Inskrywings vir 2019 sluit 30 September.
18. Kommersiële sake
Hieronder is skakels na ons webwerf vir meer inligting oor spesiale aanbiedings vir SA Jagters se lede. Ons stel hierdie maand een nuwe diensverskaffer bekend.
Archers Rock Safaris het aan SA Jagters `n gratis boogjaggeleentheid aangebied om aan lede uit te loot. Die jagpakket sluit in een koedoe, vier impalas en twee vlakvarke en sal beskikbaar wees in Mei en Junie 2020. Verblyf vir 5 dae en 4 nagte word verskaf in die luukse tentekamp. Die waarde van hierdie jagpakket is sowat R 53 000. SA Jagters sal vanaf November hierdie geleentheid begin uitloot. Kyk gerus na die skakel hier om meer inligting te kry.
Archers Rock Safaris bied ook jaggeleenthede wat buffel, swartwitpens, bastergemsbok, eland en ander wild insluit vir beide boog- en geweerjagters op plase in die Gravelotte omgewing soos Cottondale Game Ranch, De Neck en Transfrontier.
Die volgende leweransiers bied spesiale voordele aan lede van SA Jagters.
• Toyota SA
• Westvaal Nelspruit
• Wildman Hunting and Outdoor
• Hokaai Slaghuis
• Die Wildshoekie Vleismark
• LAVA Vakuumverpakking
• Selftrack
• MAINSU Kragopwekkers
• Cens Digital Gehoorbeskerming
• Uitlaatstelle van De Graaf Autosentrum in Van der Hoffweg Pretoria
• Helle-messe
• Nitecore Flitse
• Fitch and Leedes
• Otterskloof
• Cassie Nienaber – Ladingontwikkeling en Herlaai
• Archers Rock Safaris
Kliek hier vir meer inligting oor enige van die bogenoemde voordele.
19. Kongres en Nominasies
Die eerste kennisgewing vir die Kongres wat op 1 en 2 November 2019 is reeds aan takvoorsitters gestuur. Doen navraag by u takvoorsitter oor die deelname aan die aktiwiteite van SA Jagters en ook deelname aan die Kongres.
20. SA Jagters se kantoor sluit
SA Jagters is `n geregistreerde werkgewer en het die verpligting om as werkgewer toe te sien dat werknemers verlof neem soos die wet vereis. Dit is vir baie jare reeds die praktyk dat die kantoor van SA Jagters tussen ongeveer 16 Desember en ongeveer 6 Januarie sluit.
Ons het verlede jaar vir `n effens langer periode gesluit en van ons lede was ongelukkig daaroor.
Ons stel lede vroegtydig in kennis dat die kantoor van SA Jagters op 13 Desember 2019 sluit en weer sal open op 6 Januarie 2020. Indien u in Desember enige dokumentasie sou benodig, maak asseblief seker dat u betyds daarvoor aansoek doen.
Vriendelike groete
Fred Camphor
SA Jagters: HUB