Skielik is ons by die einde van April en die jagseisoen is hier. Ek vertrou dat elkeen van ons lede genoegsaam voorbereiding gedoen het vir die jaggeleenthede wat nou ernstig aandag gaan kry. Maak asseblief seker dat u optrede in die jagveld en ook andersins absoluut veilig sal wees.
Ope Brief aan President Ramaphosa
Na oorleg met die raad van SA Jagters het ek as HUB `n ope brief gerig aan President Ramaphosa. Die doel hiervan was eerstens om sy aandag te vestig op sommige van die probleme wat ons as wapen-eienaars ervaar met lisensiëring van vuurwapens en tweedens om ook onder sy aandag te bring dat wapen-eienaars ook kiersers is wat stemme kan uitbring in volgende week se verkiesing.
`n Kopie van die brief is inderdaad aangestuur na die kantoor van die President en my “ingeligte bronne” deel my mee dat `n kopie daarvan inderdaad wel aan die President verskaf is. Dan is die brief ook wyd gedeel in sosiale media en ek het `n kopie van die eerste weergawe daarvan ook na lede aangestuur. Diegene wat mag belangstel – u sal `n kopie van die finale skrywe aan die President hier vind. U sal merk dat hierdie biref net in Engels is aangesien dit aan die President gerig is. U is welkom om hierdie skrywe ook verder te versprei. Maak dit asseblief beskikbaar aan u plaaslike koerante en radiostasies.
Gespreksgeleentheid met President
Ek was ook bevoorreg om uitgenooi te word na `n gespreksgeleentheid met die President in die Atterbury Teater in Pretoria op Maandagaand 29 April met wat genoem is `n “groep meningsvormers”. By hierdie geleentheid was daar kans om vrae te vra aan die President en het ek die geleentheid gekry om ook twee vrae te stel. `n Kort videogreep van die vrae wat ek gestel het sowel as die President se respons daarop is hier beskikbaar.
Alhoewel daar sekerlik verskillende interpretasies kan wees van die President se respons op die vrae is my siening van die boodskappe wat die President gegee het aan ons as wapen-eienaars soos volg:
Die eerste en die maklike een is dat die President erken dat die SVR `n deurmekaarspul is en dat dit aandag moet kry. Wat ek dink ons ook moet verstaan is dat die manier waarop hy aan probleme aandag gee is om prosesse in werking te stel waarvan die uitkoms die antwoord gee. Hy neem nie vinnige besluite oor hierdie soort sake nie.
Dan het ek ook verstaan dat hy in sekere sin `n uitnodiging gerig het om aan hierdie soort van prosesse deel te neem waar dit gepas mag wees. Dit was dalk nie direk deel van sy antwoord op my vrae nie maar gedurende die gesprek het hy heelparty maal daarna verwys dat mense uitgenooi word om aktief aan prosesse deel te neem en ek wil graag aanvaar dat hy dit ook so bedoel ten opsigte van hierdie saak.
Oor die kwessie van privaat vuurwapenbesit het ek verstaan dat hy in `n ideale Suid Afrika waar daar nie geweld en misdaad is nie graag `n situasie wil sien waar daar geen noodsaak is vir wapens vir selfverdediging nie, maar dat hy besef ons is ver daarvandaan met die misdaadsituasie in RSA. Dan het ek ook verstaan dat die misbruik van wapens om misdaad te pleeg `n probleem is waarvoor die ANC nie regtig `n antwoord het nie. Die maklike antwoord hierop is niemand moet wapens hê nie. Dit is duidelik dat dit `n langtermyn siening is en nie nou realiteit nie.
Dan dink ek het hy baie duidelik gesê dat ons standpunte hieroor verskil en dat hy sou wou sien dat ons `n gesprek hieroor aan die gang moet kry om by `n uiteindelike antwoord uit te kom. Dit is vir my positief omdat dit die geleentheid stel vir ons as wapen-eienaars (vir verskillende redes) om deel te wees van die gesprek, om die aandag te fokus op die eintlike probleem (onwettige wapens in die hande van misdadigers, en `n behoorlike bestuurde stelsel van goed gereguleerde wapenbesit) en dat ons daarmee ook impak kan hê op die uiteindelike besluit wat geneem mag word. Die deur is daarom nie toegemaak in ons gesig nie.
`n Verdere opmerking van my kant is dat ek vermoed (en eintlik weet) dat die President nie behoorlik ingelig is oor wat die feite werklik is en hoe groot die probleme werklik is nie. Hy kry gefilterde inligting. Met die gesprek aan die gang kry kan dit juis die geleentheid wees vir ons as wapen-eienaars om die werklike feite onder sy aandag te bring. Dit mag sy siening oor die langtermyn ideaal verander.
Ten slotte is ek van mening dat hy vir ons die geleentheid geskep het om deel te raak van die oplossing en nie net te kla oor wat verkeerd is nie, en hierdie uitdaging behoort ons met albei hande aan te gryp.
Hy is ook `n wildboer. As niemand van ons enige vuurwapen mag besit nie, wie gaan sy wild jag?
HuntEx
HuntEx het uiteindelik afgeloop en was na ons mening suksesvol. Daar was 33 039 besoekers by HuntEx 2019, bykans 1 000 meer as verlede jaar. Baie dankie aan elkeen van u wat die skou kom besoek het en elkeen wat by ons by die stalletjie `n draai gemaak het. Ek kon net een dag bywoon en dit was nogal `n redelike vol dag met verskeie besoekers aan wie ek kon aandag skenk.
Ek wil graag `n lansie breek vir ons personeel wat lang ure op die voete deurgebring het. Baie dankie aan elkeen van u wat die werk gehelp doen het. Adriaan Woudstra, baie dankie ook aan jou en jou span mense om HuntEx vir ons moontlik te maak.
Die trekking van die pryse vir die besoekers aan SA Jagters by HuntEx sal gedoen word na alle data verwerk is en ons die proses kan afsluit. U moet asseblief maar bietjie geduld gebruik. Ons sal so teen middel Mei reg wees hiermee.
HuntEx 2020
Maak asseblief sommer nou al die aantekening in die dagboek. HuntEx 2020 word beplan vir 24 tot 27 April 2020
Jagsake
Buffeljag vir R 50
Die Mangalana stam naasliggend aan die Sabie Game Park in Mosambiek het een van die buffels uit hulle jagkwota aan SA Jagters toegeken. Die Sabie Game Park is geleë net oorkant die grens met Mosambiek en `n mens kan daarheen ry om te gaan jag.
Die jaggebied is die omgewing van die Sabie Game Park in Mosambiek wat grens aan die oostelike grens van die KNP met Mosambiek waar die Sabierivier in Mosambiek vloei. Die omgewing is ideaal geleë en dra `n redelike groot buffelbevolking.
As `n tweede prys in hierdie trekking het die Raad van SA Jagters aangebied om `n geslypte diamant ter waarde van R28 000 beskikbaar te maak. Hierdie diamant is geskenk deur die Diamant-tak van SA Jagters.
Koop asseblief u kaartjie deur die volgende te doen:
- Plaas R50 of veelvoude van R50 (wat u meervoudige kanse sal gee) elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by ABSA en die rekeningnommer is 01443990077.
- Gebruik net u eie selfoonnommer en Buffel as verwysing.
Inskrywings vir hierdie trekking sluit op 31 Julie 2019. SA Jagters sal u selfoonnommer gebruik om die trekking van die gelukkige wenner van hierdie jag te doen.
Die volgende voorwaardes is van toepassing op hierdie jaggeleentheid.
- Die jag word aangebied vir een (1) buffelbul in die gebied aanliggend tot Sabie Game Park in Mosambiek.
- Die jagter moet self daarheen reis. U kan maklik met u eie voertuig (verkieslik `n bakkie) daarheen ry. Dit is net oor die grens in Mosambiek.
- Verblyf word verskaf maar die jagter moet sy eie etes en drinkgoed voorsien.
- Sabie Game Park verskaf verblyf, `n jagvoertuig en professionele jagter wat in Mosambiek geregistreer is.
- Die jagter moet voorsiening maak vir vyf (5) jagdae. Dit is ook die tydperk waarvoor Sabie Game Park verblyf en die diens van `n professionele jagter sal verskaf.
- Die jag moet bespreek en afgehandel word voor einde November 2019.
- Die vleis van die gejagte buffel bly die eiendom van die gemeenskap. Die jagter sal vir eie gebruik `n bietjie van die vleis (byvoorbeeld filette) kan kry. (Ingevolge die Bek-en-Klouseerbeheermaatreëls mag geen vars vleis in elk geval van Mosambiek na RSA ingebring word nie.)
- Die jagter moet sy eie geweer en ammunisie voorsien. Die minimum kaliber geweer om buffel in Mosambiek te jag, is .375 H+H of 9.3X62
- Hulp sal verleen word met aansoeke vir tydelike invoerpermitte vir vuurwapens en ammunisie na Mosambiek. Die jagter moet die koste hiervan betaal.
- Hulp word verleen met die dip, pak en verskeping van die trofee. Die jagter moet ook hierdie koste betaal. Neem kennis dat dit tot ses (6) maande kan neem om `n trofee uit Mosambiek te ontvang.
- Die jagter moet self `n geldige paspoort en ook `n geldige visum kry om Mosambiek te besoek vir die jaggeleentheid.
- SA Custos Taksidermie in Kempton Park het taksidermiedienste geskenk sodat die jagter die trofee gratis kan verwerk as skouermontering.
- Indien die jagter nie daarin slaag om die buffelbul binne die gegewe vyf dae te jag nie, sal daar ongelukkig geen verdere geleentheid vir die jag toegelaat word nie.
- Die jagter wat hierdie jaggeleentheid wen moet self die jag onderneem. Hierdie jaggeleentheid kan nie verkoop word nie.
Tiervisvang
Ons Jagsake Manne bied ook `n Tiervisvang geleentheid aan. Vir R50 staan u die kans om `n tiervis avontuur te wen by Komatipoort in die Komatirivier. Die prys is vir 4 persone. Die boot, gerei, aas en gids is ingesluit vir twee sessies (1 van 12 ure en 1 van 6 ure). Die boot is ook rolstoel vriendelik.
Uitgesluit is u eie vervoer na en van Komatipoort, akkommodasie en etes. Daar is `n kampterrein met ablusieblok met warm water en elektrisiteit beskikbaar op die perseel, asook nabygeleë Lodges.
- Plaas R50 of veelvoude van R50 (wat u meervoudige kanse sal gee) elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by ABSA en die rekeningnommer is 01443990077.
- Gebruik net u eie selfoonnommer en Tier as verwysing.
Die trekking vir hierdie kompetisie sal op 13 Augustus 2019 gedoen word.
Varkpermitte
Lede wat nog hul plase wil registreer vir die uitreik van permitte vir die vervoer van wildevark vleis kan gerus op ons webwerf onder Jagsake meer inligting oor die proses bekom
Jaglisensies
Jaglisensies vir die meeste Provinsies kan bekom word by Inyathi Park, skakel gerus ons vriendelike dames Betsie of Vanessa of Dorothy by 012 808 9300 vir hulp in hierdie verband.
Die Sewentigste herdenking van SA Jagters
SA Jagters is gestig as die Transvaalse Jagtersvereniging op 1 Oktober 1949 in die koffiehuis van die Nasionale Dieretuin in Pretoria. Die naam is later verander na die Suid Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging soos ons dit steeds ken. In 2019 word SA Jagters 70 jaar oud. Verskeie projekte word beplan om die verjaardag van die Vereniging te vier.
Gedenkboek
Die ontstaan en geskiedenis van SA Jagters is nog nooit gepubliseer nie. Prof. Pottie Potgieter een van ons oud-presidente, is die argivaris wat inligting, dokumentasie en foto`s versamel vir só `n boek. Stuur asseblief alle nuuswaardighede uit die verlede, inligting en foto`s aan Prof. Pottie.
Juwele
Die eerste stukke van die reeks juweliersware wat Maryna de Klerk van M2 Juweliersware vervaardig is reeds beskikbaar. U kan foto`s van die juwele here kry.
Elke stuk is gemerk met `n nommer en prys. Hierdie is individuele jewele en daar is slegs van enkele daarvan meerdere identiese stukke beskikbaar.
Indien u enige van hierdie ivoor juwele wil koop afkomstig uit die ivoor van Nico van Rooyen, skakel asseblief met Realda Goosen by (012) 808 9300. Maak seker dat u die nommer van die stuk of stukke beskikbaar het. Die juwele word aangebied op die basis dat die persoon wat eerste die bestelling plaas en betaal die betrokke juwele sal kry.
Hou in gedgate dat ons die stukke per versekerde pakket per koerier sal aanstuur wat ook bietjie verdere koste sal meebring. U sal versoek word om `n elektroniese deposito te doen met die verwysingsnommer van die juwele en u naam. Na ontvangs van u deposito sal die juwele na u aangestuur word.
Messe
Tommy Liversage en sy span is reeds kliphard aan die werk om die messe gereed en beskikbaar te kry. Hierdie messe het ook van die ivoor van Nico van Rooyen op die hef aan weerskante. U sal `n foto van die mes hier kry.
Daar is `n beperkte reeks van 500 van hierdie messe beskikbaar teen R 1 000 elk. Dit is Buck knipmesse met ivoor op die hef en met SA Jagters se logo op die hef graveer. Die messe sal vanaf ongeveer einde Mei beskikbaar wees.
Plaas die R 1 000 elektronies oor na die bankrekening van SA Jagters. Die rekening word gehou by ABSA en die rekeningnommer is 01443990077. Gebruik u lidnommer en Knipmes as verwysing. Stuur dan `n bewys van betaling met u lidnommer en kontakdetail aan Realda Goosen by realda@sahunt.co.za wat met u sal skakel om die nodige verdre reëlings te tref.
Gewere
SA Jagters Raad het besluit om twee gewere in klassieke kalibers (7 X 57 en 9,3 X 62) te laat bou terviering van die sewentigste verjaardag. Hierdie gewere word gebou deur Ralph Badenhorst Jnr en sal ook elkeen met `n gelukstrekking aan lede beskikbaar gestel word. Meer detail hieroor sal teen die einde van Mei beskikbaar wees en sal dan in die nuusbrief aangekondig word.
Lidmaatskap
Die ledetal van SA Jagters bly konstant op 42 374 opbetaalde lede teen 30 April 2019.
Onthou dat elke lid van SA Jagters wat 10 lede in `n gegewe jaar vir SA Jagters werf die volgende jaar gratis lidmaatskap ontvang. Takke wat lede werf kry ook erkenning met `n gedeelte van die ledegeld, bo en behalwe die tak-subsidie wat die Tak ontvang.
Carl Arnold, President van SA Jagters, se doelwit is om SA Jagters se ledetal in 2019 en 2020 met 4 000 lede te sien groei. Kom ons vat hande om hierdie doelwit te behaal.
Bewaring
Die afgelope maar maande is daar met ywer gewerk aan die uitbreiding van bewaring op takvlak. Die Bestuurder Bewaring, Lizanne Nel, het werksessies gehad met verskeie takke en streke om bewaringsinisiatiewe van takke te herstruktureer sodat ons as Vereniging kan demonstreer wat ons bydrae is tot bewaring. Die uitrol van die aanlyn registrasiestelsel vir bewaringsinisiatiewe vorder goed.
Inisiatiewe wat tans aandag geniet in takke sluit onder andere in:
- Bewaringsverwante praaitjies deur verskeie kundiges by tak-aande en skole
- Skenkings vir die redding, rehabilitasie en bewaring van flaminke, pikkewyne en seevoëls
- Operasionele en bewaringsondersteuning vir uitgebreide natuurgebiede, reservate en parke, insluitende hulp met watervoorsiening vir wild
- Registrasie, kartering en ontwikkeling van beste praktyke vir die bestuur van aasvoëlresturante
- Kartering van uilkaste en opnames om die bydrae in broeisukses van uile te bepaal
- Vestiging van inheemse bome
- Droogtehulp aan droogtegeteisterde areas
- Uithaal van strikke
- Vlermuis-opnames en inisiatiewe
- Samewerking met grondeienaars om hul bewaringsbydrae te bevorder
- Rehabilitasie en uitheemse plantbeheer
Lede word versoek om betrokke te raak by die bewaringsinisiatiewe van takke en sodoende `n positiewe verskil te maak in die toekoms van ons natuurlewe erfenis.
IUCN Lidmaatskap
SA Jagters se aansoek om IUCN lidmaatskap is ingedien. Die aansoek is nou beskikbaar vir kommentaar deur alle IUCN lede. `n Antwoord op die aansoek om lidmaatskap kan teen ongeveer September 2019 verwag word.
CITES CoP 18
CITES Conference of Parties 18 (CoP18) is aanvanklik beplan vir einde Mei 2019 in Sri Lanka. SA Jagters het kommentaar oor verskeie voorstelle vir oorweging ingedien, soos byvoorbeeld behoorlik bestuurde handel in Renoster-produkte, teen die moontlike opgradering van Afrika Olifante na skedule 1 en teen die moontlike lysting van Kameelperde op skedule 2. Meer inligting oor die kommentaar van SA Jagters is hier beskikbaar.
Die CITES CoP 18 vergadering is verlede week onbepaald uitgestel as gevolg van die onluste in Sri Lanka en wanneer daar sekerheid oor `n datum vir die byeenkoms is, sal lede gepas ingelig word.
Conservation Frontlines
Lede van SA Jagters word die geleentheid gebied om in te teken op die elektroniese tydskrif Conservation Frontlines sonder enige koste. Indien u belangstel daarin om die digitale tydskrif te ontvang kan u inteken by https://www.conservationfrontlines.org/subscribe/
Elektroniese Kommunikasiemedia
SA Jagters gebruik vir geruime tyd nou reeds ons webwerf (wat sopas herontwerp is), E-Hunter stelsel en die App, sowel as die tablette vir kommunikasie met lede. Sommer net ter wille van die interessantheid daarvan:
Ons kry gemiddeld maandeliks 15 000 besoeke op ons webwerf waar individue dan na verskillende bladsye deurskakel.
Die meer gewilde bladsye wat besoek word is Lidmaatskap, Takke, Skietsake, aansoeke vir Endossemente, Herlaaidata en die Jagproklamasies.
Hierteenoor word spesifieke inligting op die stelsel gelaai (soos byvoorbeeld jag en skietaktiwiteite) deur gemiddeld 17% van ons lede.
Baie dankie dat u die sagteware tot u beskikking gebruik en gaan asseblief voort om dit te doen. Dit behoort die lewe vir u effens makliker te maak.
Fotokompetisie
Lede word herinner om deel te neem aan SA Jagters se fotokompetisie. Die doel van die kompetisie is om `n portefeulje saam te stel van die beste foto`s wat SA Jagters se lede geneem het sodat ons dit op die webwerf, in aanbiedinge en advertensies by geleenthede soos die jaarlikse kongres se gala-aand kan vertoon.
Aan die einde van elke maand sal ons foto`s kies om by hierdie portefeulje in te sluit en dit ook op www.cw.co.za publiseer. Kyk gerus hier na April se foto`s. Lede sal ook erkenning in die vorm van goud, silwer of brons sertifikate ontvang.
Ons borg (Canon SA) het weer `n nuwe kamera as prys vir die algehele wenner beskikbaar gemaak. Die prys word tydens ons kongres galadinee aan die einde van die jaar oorhandig. Ons probeer ook om meer pryse vir die verskillende kategoriewenners te kry.
Kategorieë vir 2019 se kompetisie
1. Die Jagter (Nie gejagte diere): Foto`s wat `n jagter – mens of dier – in die natuur uitbeeld.
2. Die Natuur Praat: Foto`s uit die natuur wat met die jou siel praat, bv. Merkwaardige agtergronde of kleure.
3. Dierelewe: Foto`s wat enige dierelewe (land, voël of seelewe) uitbeeld.
4. Skiet –`n toegewyde sport: Foto`s wat die aktiwiteit, toewyding, toerusting en voorbereiding van die sportskut uitbeeld.
Lees gerus hier wat u moet doen om in te skryf.
Kommersiële sake
Soos gebruiklik, sluit ons skakels in na ons webwerf vir meer inligting oor spesiale aanbiedings vir SA Jagters se lede. Kliek op die skakel waarin u belangstel.
Die volgende leweransiers bied spesiale voordele aan lede van SA Jagters.
- Toyota SA
- Westvaal Nelspruit
- Wildman Hunting and Outdoor
- Hokaai Slaghuis
- Die Wildshoekie Vleismark
- LAVA Vakuumverpakking
- Selftrack
- MAINSU Kragopwekkers
- cens Digital Gehoorbeskerming
- Uitlaatstelle van De Graaf Autosentrum in Van der Hoffweg Pretoria
- Helle-messe
- Nitecore Flitse
- Cassie Nienaber – Ladingontwikkeling en Herlaai
Kliek hier vir meer inligting oor enige van die bogenoemde voordele.
Vriendelike groete
Fred Camphor
SA Jagters: HUB