Jagters en natuurliefhebbers van die Springs-omgewing in Gauteng, het onlangs ses gevlekte ooruile, tien skilpaaie en twee blouvalkies op ’n wildplaas in die Cullinan-distrik in die natuur hervestig. Dit maak deel uit van ‘n omvattende bewaringsprojek waarmee die Springbok-tak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) al sedert 2010 besig is.
Al hierdie diere was voorheen beseer en het by Wildlife in Crisis naby Springs beland waar hulle met groot toewyding versorg en gerehabiliteer is sodat hulle weer in die natuur vrygelaat kan word. Dié bewaringsprojek verg egter meer as om net die diere los te laat.
Ben Janse van Vuuren van die Springbok-tak van die SAJWV op die punt om hierdie blouvalk se vryheid te gee.
Springbok-tak se bewaringspan rig ook uilrestaurante of voerplekke op in dieselfde omgewing waar die uile vrygelaat word om knaagdiere te lok sodat die uile hulle kan jag. Uilkaste word daar naby in geskikte bome geplaas om die uile aan te moedig om in die omgewing te bly en te broei. Die Vereniging se lede hou behoorlik boek van elke dier wat hulle vrylaat. Die ringnommer van die voëls en die GPS koördinate waar hulle vrygelaat word, word sorgvuldig aangeteken. Die gebied word gereeld besoek om te sien of die uile in die omgewing vestig en broei.
Springbok-tak se N17-uilprojek, soos dit bekend staan, is in 2010 begin om uilsterftes op ’n gedeelte van die N17-deurweg tussen Springs en Secunda te bekamp. Uile eet graag road kill en insekte op deurpaaie en word dan self dood- of raakgery. Ben Janse van Vuuren, bewaringskoördineerder van dié tak, verduidelik dat veral gevlekte ooruile dikwels padslagoffers word omdat hulle effens lui is om te jag en dan eerder aan die dooie diere of insekte op die deurpad eet.
Spanwerk! ‘nUilkas geskik vir ‘n gevlekte ooruil word in ‘n boom vasgemaak naby ‘n voerplek om rotte en muis te lok.
Met die samewerking van kundiges, sakelui in die omgewing en grondeienaars langs die N17, het die tak se bewaringspan uilrestaurante in die omgewing opgerig om veilige jaggebiede aan uile te verskaf en hulle van die paaie af te hou.
Die werk wat die SAJWV ten opsigte van bewaring doen, strek wyd en lewer ’n belangrike bydrae tot bewusmaking, opvoeding, inligting en beskerming van biodiversiteit. Daar heers baie onkunde oor uile en talle bygelowe dra by tot die doodmaak van hierdie pragtige voëls.
Die tak het met opvoedings- en inligtingsprogramme groot vordering gemaak om die waarde en voordele wat uile vir bewaring inhou, aan plaaslike inwoners oor te dra. “Sodra die mense eers self ervaar dat hulle minder rotte en muise het omdat die uile die getalle bekamp, verander hulle houding teenoor uile baie gou,” vertel Ben.
Die tak is afhanklik van vrywilligers en skenkings om hierdie bewaringstaak voort te sit. “Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning van ons eie lede, ander individue en sakelui in die gemeenskap wat ons help. Ons wil meer jong mense betrek by ons bewaringsaksies, mense in die omgewing inlig oor en bystaan met plaagbeheer; en meer mense aanmoedig om uile te koester en te bewaar,’ sê Ben.
Vir inligting oor die N17 uilprojek, of om betrokke te raak by hierdie bewaringsprojek, tree in verbinding met Ben Janse van Vuuren by Ben@fibreco.co.za of info@springboktak.co.za, of besoek www.cw.co.za
Ben Janse van Vuuren, bewaringskoördineerder van die Springbok-tak van die SA Jagters en Wildbewaringsvereniging, met een van die ses gevlekte ooruile wat onlangs in die natuur hervestig is